Darryl Hendricks, ná sy onoorwonne 122 vir Paarl KK teen Worcester United, word deur sy spanmaats gelukgewens. Links agter is sy vennoot, Akeem Minnaar, wat die wa deur die drif help sleep het.


Alhoewel die onoorwonne Worcester United verlede Saterdag die gunsteling op sy tuisveld was, het die span van Paarl KK die Worcesteriete hard terug aarde toe gebring deur die wedstryd met sewe paaltjies te wen.

Die besoekers het met goeie vennootskappe toegesien dat die teiken van 194 in hierdie Premierliga-wedstryd van die Boland teen die 44ste boulbeurt reeds gehaal word.

En met een bonuspunt elk is Paarl, Wellington en Van der Stel KK nou die gesamentlike voorlopers in die reeks.

Die tuisspan het besluit om eerste te kolf, maar het klippe gekou teen die Paarl se draaiers nadat Tylon Matthee in die vierde boulbeurt toegeslaan het met ’n bal wat pragtig van die naat af beweeg het. Die kaptein, Waylain September (10-3-19-3), het in ’n marathonskof die skroewe styfgedraai, goed bygestaan deur Byron Cook (8-0-28-2). Die snelboulers Keegan Whitten en Liam Muller het ook elk ’n paaltjie gekry en op 110/6 ná 40 boulbeurte was Worcester met die rug teen die muur. Die sewende, agtste en negende paaltjies het egter bydraes van 42, 39 en 37 opgelewer danksy puik kolfwerk teen die einde deur Mario Marinus (50 n.u.n.), Charlton Fransman (26) en Christo Lukas (21).

Die Paarlse aanvangskolwer Darryl Hendricks, wat die vorige Saterdag 98 teen Stellenbosch geslaan het, was uit die staanspoor in ’n aanvallende bui en was teen die einde van die wedstryd onoorwonne op 122 (12×4, 2×6), wat van slegs 119 balle gemoker is. Hy was in vennootskappe met Aqeeb Douman (31 om die eerste paaltjie), Whitten (62 om die tweede), Herschelle Poggenpoel (35 om die derde paaltjie) en Akeem Minnaar (67 om die vierde paaltjie). Dit was veral Worcester se kaptein, Adrian du Toit (10-0-43-0), Lukas (8-0-34-0) en Marshin Jaftha (10-1-41-2) wat onder Hendricks se flitsende kolf deurgeloop het.

Paarl II het self goed vertoon met ’n oorwinning van 20 lopies op die Parysveld teen Worcester United II, wat besluit het om in die hitte eerste te boul. Die tuisspan kon slegs 107 haal, danksy ’n reusekolfvertoning deur Dylon Martin (51, 2×4, 2×6).

Worcester se Willie Nimrod (6.4-0-18-5) het verwoesting met die bal gesaai. Die besoekers is egter vir slegs 87 uitgeknikker, danky die speler van die wedstryd, Dylan Martin (10-2-25-6), wat sy hart uitgeboul het. Nathaniele Hendricks (8.3-1-25-2) het ook goed vertoon ná ’n lang afwesigheid nadat Cullen Heugh (10-0-22-2) vroeg skade met die nuwe bal aangerig het.. Paarl speel eerskomende Saterdag tuis teen Robertson KK in die Paarl, terwyl Paarl II na Robertson reis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article