Nr 21: Twee kiepersol-neefs – gewone kiepersol (Cussonia spicata) en hoëveld-kiepersol (Cussonia paniculata).
Wie kan anders as aangetrokke voel tot ’n kiepersol – ’n malkop-boom; ’n nonkonformis wat sy eie ding op sy eie manier doen. Sy groeiwyse, blaarvorm en eiesoortige blomme – alles van hom is onkonvensioneel.
Die kieprsol is egter altyd ’n skilderagtige boom en het ’n redelik gewilde aksent-boom in tuine geword.
Om ’n kiepersol te plant, bly egter ietwat van ’n risiko, want jy is nooit heeltemal seker watter groeivorm hy gaan aanneem nie – gaan hierdie boompie nou besluit om ’n stewige buksie te word of ’n boontjierank met ’n mopkop?
Die gewone kiepersol het ’n wye verspreidingsgebied deur Suider-Afrika en verder noordwaarts tot in die trope. Hy groei teen klipperige berghange in die Suid- en Oos-Kaap, teen Karoo-koppies, in die woude van KwaZulu-Natal en Zoeloeland, in die hitte van Mpumalanga se laeveld en die koue winters van die Oos-Vrystaat. Soms is hy skaars vyf meter hoog, maar in gunstige omstandighede kan hy oor die 20 meter hoog word. In Magoebaskloof staan ’n boom van ’n spesie wat baie na verwant aan die gewone kiepersol is en tot betreklik onlangs as ’n vorm van laasgenoemde beskou is, en is 35 meter hoog met ’n stam-omtrek van 11,65 m.
Die blare van die gewone kiepersol, soos dié een in die foto, is sy een sieraad. Sy blomme, wat in die vorm van dig gepakte kersvormige are (Engels: spikes, uit die spesienaam spicata) uit die punt van ’n tak spruit, is nog ’n treffende kenmerk. Die blomme is tweeslagtig – manlike en vroulike organe in dieselfde blommetjie – en uit hulle ontwikkel massas vruggies wat baie na sultana-rosyntjies lyk, met ’n saadjie die grootte van ’n druiwepit in elkeen. Die ryp vruggies, wat sterk fermenteer ná reën, is gesog onder ’n verskeidenheid voëls en insekte.
Die boom het ’n verdere geheim wat nie algemeen bekend is onder stedelinge nie – hy vorm geswolle, sappige, vetplantagtige wortels wat eetbaar is, en in landelike gebiede soms gebruik is om dors te les in tye van nood.
Daar was voorvalle van kiepersol-wortels wat baie ver gaan soek het vir water en in die middel van mense se kombuise deur die vloer boontoe gekom het, maar die hele onderwerp van wortels wat op snaakse plekke probeer deurkom, is so gekompliseerd en verstrengel met die beskikbaarheid van water dat dit nie spesifiek teen die kiepersol gehou moet word nie.
Die Hoëveld-kiepersol (ook genoem bergkiepersol) is ’n ewe skilderagtige, maar effens kleiner boom. Die maklikste manier om dit op ’n afstand van die gewone kiepersol te onderskei, is aan die grysgroen kleur van sy blare.
Hierdie boom kom op middelmatige tot groot hoogtes in die somerreën-gebied voor en is by uitstek die kiepersol wat rondom Johannesburg en Pretoria aangetref word. Dit is ’n aansienlik meer geharde boom as die gewone kiepersol, en groei stadiger as laasgenoemde.
Die bas is besonder kurkagtig en diep gegroef as beskerming teen veldbrande.
Sy blomme word ook in regop, stywe are gevorm, maar is kleiner as by die gewone kiepersol en word in vertakte trosse gedra (die Engelse woord is panicles, uit die spesienaam paniculata).
In die Paarl staan eksemplare van albei hierdie kiepersol-spesies op die middel-eiland van die Hoofstraat in die omgewing van Courtrai.
Die naam kiepersol het ’n interessante herkoms. Palmer en Pitman vertel in hul meesterwerk Trees of Southern Africa dit kom oorspronklik uit ’n Portugese woord, wat verwys na ’n ligte sambreel, wat vir beskerming teen die son gebruik is – die trosse blare wat aan die punt van die takke saamgedring is, het mense aan so ’n sambreeltjie laat dink.





