In kombinasie is kuns, musiek en uitstaande kos en wyn altyd ’n wenner.
Dit beloof om ook Saterdagaand in Wellington die geval te wees wanneer die Breytenbach-galery, die Osteria-kunshuis en KURK kragte saamsnoer om ’n langtafel-aand onder die titel “Maskerade-parade” aan te bied.
Volgens Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery by die Breytenbach-sentrum in Wellington, is die langtafel ’n uitvloeisel van die Suidoosterfees-uitstalling, wat tans by die galery te sien is.
Sy nooi gaste om tesame met die feestelikheid vir die geleentheid ’n masker te dra – “van die soort wat ’n mens na ’n opera of maskerbal sou dra”, verduidelik sy.
Die aand begin om 18:00 by die Breytenbach-sentrum in Burgerstraat, waar gaste ’n toer deur die Suidoosterfees-uitstalling kan geniet.
Die werke van Nikky Daly, Design Africa, Liza Grobler, Joubert Stander, Norman O’Flynn, Konrad Ross en Louise Gelderblom is onder meer deel van die groepuitstalling.
Klassieke kitaarmusiek sal verskaf word deur Curtis van Kerwel.
Onder leiding van KURK se Xania van der Merwe sal ’n proe van Uplands Organics se wyne gelei word.
Daarna beweeg gaste oor na die Kunshuis-Osteria in Bainstraat, waar Jacob Burger, die kurator, gaste aan die versameling werke wat in die gange en vertrekke van dié restaurant hang, sal bekend stel.
Die sjef Johnny Hamman staan gereed om gaste daarna op antepastas en pastas te trakteer. Daarby sal gaste die geleentheid kry om geblikte alkoholiese en nie-alkoholiese wyn – ’n nuutjie op die Suid-Afrikaanse mark – uit te toets.
Kaartjies kos R550.
Kontak Anne-Ghrett Erasmus by 083 415 0002 of galery@breytenbachsentrum.co.za vir besprekings.. Die langtafel is een van talle sensoriese aktiwiteite wat hierdie naweek as laaste naweek van die maand deur KURK vir wyn- en kosliefhebbers in Wellington aangebied word.
Nog kuns sal te sien wees wanneer die wynmaker Bertus Fourie van Asador- en Braai Master-faam ’n vyfgangmaaltyd aan gaste voorsit.
Die aand word in vennootskap met Uplands Organics en die Endangered Wildlife Trust by die Avo-sentrum in Distelleryweg aangebied.
Saterdagoggend om 11:00 bied die Kaapse Wynmeester Raymond Noppé ’n meesterklas in wynproe by die Avo-sentrum aan. Dit word gevolg deur ’n wynproe wat gelei word deur Edmund Oetlle, Uplands Organics se wynmaker en distelleermeester, asook middagete wat deur Bertus Fourie voorberei word.
Kaartjies vir hierdie vyfgangete kos R450 per persoon, wat die wynproe insluit.
Besoekers kan Saterdag tussen 13:00 en 16:00 ook plaaslike wyne proe en ’n meestersklasaanbieding bywoon waar die Kaapse Wynmeester Raymond Noppé gaste oor die fyner vernuf van professionele proe sal leer. Die geleentheid sluit af met ’n ete (R180 per persoon) asook Sondagkuns en wyn-inkopies tussen 11:00 en 15:00. . Kontak admin@kurk.co.za of 082 493 9087 vir nog inligting. Kaartjies vir die hele naweek se aktiwiteite, wat Saterdagaand se langtafel insluit, is teen R900 per persoon te koop.





