Fokus eerder op beter geriewe as drank, minister, is my boodskap vir die redding van ons onderwysstelsel.
Die departement van basiese onderwys (DBO) het onlangs ’n opsomming van nuwe voorgestelde wette vir basiese onderwys bekend gemaak. Die wetgewing, wat binnekort aan die publiek vir kommentaar voorgelê sal word, beskik oor ’n lys nuwe wette vir die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.
Een van die voorgestelde wette sluit onder meer die verkoop van alkoholiese drankies op skoolterreine in. Hoewel die DBO die finale keuse oor die verkoop van alkohol op skoolterreine aan die skoolbestuur en die Skoolbeheerliggaam (SBL) oorlaat, is die inagneming van die wysiging van só ’n wet vir my ’n bekommernis – ’n bekommernis dat die minister en die DBO die verkoop van drank ernstiger opneem as die toestand van skole, en veral dié van ordentlike toilette by skole.
Netwerk24 het vroeër vanjaar berig dat sowat 3 297 skole in Suid-Afrika steeds puttoilette gebruik – dít nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ondersoek ingestel en ’n verdoemende verslag daaroor saamgestel het.
Volgens die MRK se verslag het sowat 366 skole geen toegang tot lopende water vir sanitasiedoeleindes nie.
Dit beteken dat honderd duisende leerders van hierdie haglike geriewe gebruik moet maak. Nie net is hierdie soort omstandighede ’n skending van leerders se menseregte nie, maar ook die skending van die reg op gehalteonderrig, want hoe kan onderrig en leer op enige wyse behoorlik geskied as die geriewe onmenslik is?
Voor 1994 is hard baklei vir toegang tot onderwys vir almal op ’n gelyke en regverdige wyse. Dié stryd, soos ons almal weet, is gewen toe Suid-Afrika ’n demokrasie geword het. ’n Reg op onderwys – veral hoër onderwys – was almal beskore.
Dit is egter net jammer dat die toegang tot onderwys nie van goeie gehalte is nie.
Dit is volgens my glad nie iets waaroor die DBO kan huis toe skryf as sogenaamde “prestasie” nie.
Ook, vroeër vanjaar moes ons lees van ’n meisietjie by ’n primêre skool wat deur haar skoolhoof gevra is om in die skool se puttoilet af te gaan om sy selfoon te gaan uithaal. Dié skoolhoof se gedrag was vieslik en afgryslik; geen mens kan dit goedkeur nie.
Die selfoon sou waarskynlik nie ingeval het as die skool behoorlike, menswaardige geriewe gehad het nie.
Die DBO en Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, moet hulself skaam vir die soort goed wat hulle as prioriteite beskou. Dis absoluut skandelik dat die DBO meer aandag aan die verkoop van alkoholiese drankies as aan basiese menslike geriewe gee – en daarmee saam die toekoms van duisende leerders, wat ook maar eintlik mense is!
Ons geveg is lank nie meer oor toegang tot onderwys nie, maar gehalte wat doeltreffend, veilig en ook waardevol genoeg is om suksesvolle Suid-Afrikaanse burgers te skep. Ek hoop die DBO sal die waarde in ag neem wat gepaard gaan met goeie en veilige geriewe wat help om die onderrig- en leerproses makliker te maak – nie net vir die leerders nie, maar ook vir die onderwysers.




