Monecia Isaacs wil ’n verskil maak in ander se lewe ná haar seun se dood verlede jaar.



“Ek moes ’n keuse maak. Vergewe ek my kind se moordenaar, of sterf ek saam met my kind?”

Monecia Isaacs van Wellington vertel hoe sy haarself onder bitter hartseer omstandighede moes opbeur ná haar seun se wrede moord en nou ’n verskil in ander se lewe wil maak.

Monecia sê haar seun, Juvino (24), is verlede jaar op 28 April doodgesteek.

“Die dag van sy dood was ek in die hospitaal met my kleinseun. My ander seun, Kurtley, het my by die hospitaal kom haal en op pad huis toe het ek seker oor en oor vir Kurtley gevra of sy broer orraait is. Hy het net gesê ‘Mammie, Vino het baie seergekry’. Ek het net die hele tyd gebid. Toe ons die draai in die straat vat en ek sien al die mense, het ek net geweet – my kind het dit nie gemaak nie.

“Ek onthou ek het bitterlik gehuil en my pa het my gekeer en net gesê ek moenie gaan kyk nie omdat hy baie lelik gesteek is.”

Vir Monecia voel dit dikwels soos gister dat sy haar seun verloor het. Sy vertel sy moes ná Juvino se dood ’n keuse maak – om sy moordenaar te vergewe ter wille van haar ander kinders en ook sodat sy kan lewe en nie saam met Juvino “sterf” nie.

“Dit was nie maklik nie, maar omdat ek die Here in my lewe het, moes ek dit doen sodat ek self genesing kan ontvang, en ook dat God self met sy moordenaar sal afreken. Wat my in hierdie tyd staande gehou het, was my vertroue en hoop wat ek in God het en ook die feit dat ek nog kinders het. My jongste dogter, Anoushka, en my oudste dogter, Megan, was by Juvino totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Ek moes sterk wees vir hulle ook.”

Sy vertel dat hul gesin goeie ondersteuning van haar uitgebreide familie en vriende ontvang het, asook van haar geestelike familie by Every Nation.

Monecia was reeds voor haar seun se dood betrokke by haar familie se organisasie, Patriots of Christ, wat mense in nood bystaan.

Ná Juvino se dood het hulle besluit om ook ondersteuning te bied aan jongmense wat in dwelms vasgevang raak.

“My seun was ook ’n dwelmverslaafde en ek het gesien wat dit aan hom gedoen het. Hy het hard probeer om sy lewe in orde te kry en ’n dwelmvrye lewe te lei. Ja, hy was nie ’n engeltjie nie, maar hy het die grootste respek vir my as ma en vir ouer mense gehad. Hy was ’n liefdevolle kind in die huis; ’n regte grapjas en terggees.”

Monecia het verlede jaar op 17 Desember, op Juvino se verjaarsdag, besluit om haar seun se verjaarsdag te vier en hulle het ’n gebedstaptog gereël om hul getuienis so te deel en na jongmense uit te reik.

“Ons wil hê jongmense daar buite, wat vasgevang is in dwelms of bende-aktiwiteite, moet weet daar is genade en daar is nog ’n kans om dinge reg te maak. Ek glo daar is geen verlossing sonder bekering nie en ook dat my seun daai genadekans gehad het om nog sy saak met God reg te maak voordat hy die aarde verlaat het.

“Ek hoop en vertrou dat ons ’n verskil in ’n jongmens of selfs ’n ouer se lewe kan maak.”

As deel van die uitreiking het hulle ook Juvino se gunsteling, ’n burger en koeldrank, in die gemeenskap uitgedeel. Monecia beplan om dit ’n jaarlikse instelling te maak en ook so haar seun se lewe te vier. Sy meen sy kan haarself in ’n ma se skoene plaas wat ’n kind het wat vasgevang is in dwelms, en weet sy kan werklik ’n verskil in die gemeenskap maak.

“In samewerking met Patriots of Christ en met die hulp van ouers, vriende en familie, sal ons dit maak, want ons glo daaraan om dissipels te maak van alle nasies en ook dat almal ’n tweede en selfs ’n derde kans in die lewe nodig het.

“Ons kan niemand oordeel nie.”. Enigiemand wat met Monecia in verbinding wil tree, kan haar per WhatsApp by 073 993 7931 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article