’n Beperkte gemeenskapsvergadering is verlede Vrydag by die Drakenstein-burgersentrum in die aanloop tot die hittegolf-naweek gehou.

Bergrivier-boulevard-inwoners en amptenare van die Drakenstein-munisipaliteit het saam gepoog om hulle op dié vergadering voor te berei vir die moontlikheid dat massas mense na die rivier sou stroom.

Die afgelope naweek se bloedige temperature het wel tot chaos gelei, wat alle verwagtinge oortref het.

Video-opnames daarvan wys duisende mense wat langs die oewer ontspan het, sowel as hordes wat van ’n brug af in die rivier spring.

Meer as een verdrinking is ná die naweek aangemeld en boonop is die boulevard in ’n walglike toestand deur dié dagbesoekers agtergelaat.

Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende hoof van gemeenskapsdienste, het die vergadering bygewoon en inwoners toegespreek.

“Ons gaan in die aanloop tot die naweek bykomende wetstoepassers, sanitasiegeriewe al langs die rivier sowel as bykomende skoonmaakspanne ontplooi.”

Kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, sê geen verkeersbeamptes óf wetstoepassers was die naweek teenwoordig om reg en orde te handhaaf nie.

“Paarl-polisiebeamptes was self in die hitte van die dag uit om verskeie inhegtenisnemings rakende misdaad-gevalle te doen. Hulle het nie tyd om volwassenes en kinders op die oewer van die rivier op te pas nie.”

Esau het wel genoem dat die probleem verder as die munisipaliteit strek. “Bewusmaking en ’n kultuur van netheid moet onder die mense van Drakenstein geïmplementeer word. Die oomblik dat mense na die rivier stroom, is dit eerstens die munisipaliteit wat die skuld kry. Inwoners het ook ’n plig om eienaarskap te neem,” sê Esau.

Conrad Poole, die Drakensteijn-burgemeester, het net twee dae later ’n openbare boodskap en pleidooi uitgereik: “Sommige inwoners is nie so bevoorreg om toegang tot lugversorging en private swembaddens te hê nie en moet elders lafenis in die hitte vind. Nie eens almal kan by ’n strand of opebare swembad uitkom nie.”

Hoewel Poole nie uitdruklike toestemming vir die naweek se gebeure openbaar het nie, het hy wel ’n pleidooi uitgereik dat dagbesoekers skoon moet wees, nie oop vure moet aansteek nie en op eie risiko in die rivier moet swem, aangesien dit tegnies onwettig is.

Gedurende die vergadering se vraetyd het ongeveer 40 inwoners hul kommer sterk uitgespreek oor dagbesoekers aan die boulevard wat rommel strooi, onwettige alkohol gebruik, inwoners se tuine as toilet gebruik en die rumoer van motors wat jaag en wiele spin.

“Kom dit ná so naweek, wat die munisipaliteit in die boulevard moet skoonmaak, word ekstra skoonmaakdienste ontbied, en dit word op ons tariewe gehef terwyl ons reeds die hoogste tariewe in die Drakenstein betaal, maar dis nie ons wat dit bemors nie,” het ’n inwoner gekla, terwyl talle ander saamgestem het.

’n Ander inwoner het bygevoeg: “Dit alles kom neer op wetstoepassing. Die verkeersbeamptes is alte gewillig om my sewe keer per maand langs die pad voor te keer en my te probeer beboet. Dit is maklik om ’n middelklasmens wie se identifikasie, registrasie en bewys van adres op die stelsel is, te beboet.

“Maar mense soos ek word ver oortref deur diegene wat die wet oortree en nie hul boetes hoef te betaal nie omdat hul persoonlike inligting nie op Drakenstein se stelsel te vinde is nie.”

Ander het gesê hulle twyfel of boetes enigsins uitgeskryf word aan mense wat rommel strooi, alkohol in die openbaar in die omgewing van die boulevard gebruik en onwettig in die Bergrivier swem.

In reaksie op die aantal boetes wat deur die munisipaliteit uitgereik word, het Esau gesê 721 boetes is die afgelope drie weke uitgereik.

“Die probleem is egter ons het een rekeningkundige-stelsel vir al die verskillende soorte boetes wat uitgereik word, en dit is waar ons uitdagings teëkom.”. Bergriver Boulevard residents met with Drakenstein Municipality officials last Friday to brace themselves for the masses that the heatwave was expected to bring to the river. However, nothing could have prepared them for the chaos that ensued over the weekend.

. Hoe voel jy oor hierdie berig? Rig jou kommentaar of kommer per e-pos aan Heleen.Rossouw@paarlpost.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article