Die Jack Meyer-kunssentrum het die nuwe jaar begin met ’n nuwe personeellid en ’n groot aantal blinknuwe kursusse vir jonk en oud om Vrydagmiddae met hul kunstalente te kom skep, te ontspan en te woeker.
Jody Comninos sluit vanjaar by die personeel aan as spesialisopvoeder in skeppende kuns en gaan ook betrokke wees by uitreikprogramme aan gr. 8- en gr. 9-leerders by die Breytenbach-galery in Wellington, asook leerders van die Paarl Youth Initiative.
Sy gaan moeite doen om ’n liefde vir kuns onder tieners in die Drakenstein-gebied te kweek sodat hulle die moontlikheid van visuele kuns of ontwerpkuns as keusevak van gr. 10 af kan oorweeg.
Dit is die eerste keer in die 42-jarige bestaan van die kunssentrum dat daar ses spesialis-opvoeders is, wat aansienlike nuwe moontlikhede skep.
Vrydae word voortaan opsygesit vir pret en plesier met ’n hele aantal vrywillige kursusse wat nie skoolverwant is nie. Al die klasse vind plaas tussen 14:30 en 16:30 en behels ses middae, met die eerste les wat Vrydag 28 Januarie plaasvind.
Vir meer inligting kontak die Jack Meyer-kunssentrum by 021 872 2095.




