Die saak van die moord op Chanel du Toit, waarin haar man, Johan du Toit, aangekla is, is weer eens uitgestel. Die saak sloer al byna 12 jaar in die hof.

Chanel se bebloede en naakte liggaam is in Julie 2010 by hul huis op die Dieu Donné-wynlandgoed in Franschhoek deur haar skoonma gevind.

Johan word daarvan beskuldig dat hy sy vrou verwurg het en daarna op ’n jagtog in Laingsburg gegaan het.

Hy word verteenwoordig deur die verdedigingsadvokaat William Booth. Booth se personeel het einde verlede jaar aan Paarl Post gesê: “Die saak van Johan du Toit is inderdaad by baie geleenthede vertraag sonder dat dit die skuld van die verdediging was.” Die personeel het bygevoeg “die pandemie het in die omstandighede ’n beduidende rol gespeel om die finalisering van Du Toit se saak te vertraag”.

Die saak sal na verwagting vanjaar van 1 tot 3 Junie in die Paarl-streekhof hervat word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article