“Swem maar op eie risiko,” was die sentiment wat Conrad Poole, die burgemeester, aan Drakenstein-inwoners voor verlede naweek se hittegolf uitgespreek het.
Ná twee bevestigde verdrinkings voel die Drakenstein-munisipaliteit (DM) hy kan maar sy hande in onskuld was.
Tog sal dit nie deug nie.
’n Vergadering is verlede Vrydag beroep om juis dié soort tragedie en frustrasie te bekamp – waar amptenare eenvoudig sê dit is nie hul verantwoordelikheid nie.
“Maar ons gaan wel wetstoepassing en sanitasiegeriewe al langs die Bergrivier plaas ten voorbereiding van moontlike massas,” het hulle gemaan.
Paarl-polisiebeamptes sê ’n gebrek aan verkeer- en wetstoepassingsbeamptes het Saterdag in die Boulevard voorgekom terwyl hul hande vol was weens misdaad-inhegtenisnemings. Maar wat van die sogenaamde Public Order Policing-eenheid? Die DM het geen gebrek aan hulpbronne om reg en orde toe te pas nie, slegs ’n gebrek aan kreatiwiteit en die wil om hande met verskeie departemente te vat om sulke uitsonderlike gevalle hok te slaan.
’n Nuwe plan in voorbereiding vir die naweek toon wel hoe departemente hande neem met strategiese planne om reg en orde toe te pas. “ ’n Bietjie te laat,” is wat talle sal sê, aangesien dit bewys dat dié soort benadering al ’n week gelede saamgesnoer kon word.




