Met hartseer beweeg jy deur Paarl-Oos se strate en sien vullis oral rondlê, omtrent elke stuk onbewoonde grond word in ’n vullishoop omskep deur mense wat eenvoudig nie weet waarvoor die dromme daar is nie.

Saam met al die vullis kom ook siektes en muis- en rotplae wat natuurlik niks goeds vir enigeen inhou nie.

Die meeste mense wat vullis afgooi gebruik gewoonlik een of ander dwelmverslaafde, wat beteken die munisipaliteit kan hom nie ’n boete gee nie omdat meeste nie identiteitsdokumente het nie.

Dit is die huiseienaar se plig om seker te maak die vullis beland in een of ander skip wat die munisipaliteit geplaas het vir vullis, maar dit word meestal lángs die skip gegooi.

Dit kos die Drakenstein-munisipaliteit duisende rande om al die verskillende gebiede skoon te maak.

As jy in ag neem daar woon ongeveer twee tot drie huisgesinne op een erf, is dit duidelik dat een vullisdrom hopeloos te min is vir ’n week.

Die munisipaliteit het al gratis vullisverwydering vir Paarl se mense aangebied, hulle het al skips in gebiede gesit en steeds werk geen van hierdie planne nie bloot omdat die inwoners net eenvoudig nie omgee nie.

Ek persoonlik dink om die vullisdromme meer as een keer te kom leegmaak kan dalk die oplossing wees.

Natuurlik gaan dit die munisipaliteit nou meer kos – met diesel wat duurder raak, meer arbeiders en so kan die uitgawelys aangaan, maar om die probleem te stuit, sal daar na alternatiewe oplossings gekyk moet word.


Moeg vir gemors,

Paarl-Oos

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article