In Februarie skop Luna Paige ’n besige musiekjaar met drie optredes en tyd in die ateljee af.
Paige en Schalk Joubert tree Dinsdag 1 Februarie by Die Boer in Durbanville op, waarna sy te siene sal wees saam met Schalk van der Merwe by Die Bôrdienghuis-teater in Wellington op Saterdag 5 Februarie.
In Augustus 2021 het Luna haar nuwe kortspeler Behold, my heart bekend gestel. Dit het vier oorspronklike snitte bevat en is in haar aanlyn musiekwinkel (www.lunapaige.com) beskikbaar. Dit was die eerste van ’n reeks nuwe musiek wat Paige beplan om deur die loop van 2022 bekend te stel. Paige neem twee nuwe enkelsnitte in Februarie op en sal dit einde Maart vrystel in samehang met twee toere (wat optredes in Gauteng insluit). Die nuwe musiek sal ook in haar aanlyn musiekwinkel beskikbaar wees. Schalk Joubert (baskitaar), Kevin Gibson (tromme) en Frank Freeman (kitare) sal by Luna in die ateljee aansluit. Melissa van der Spuy sal ook musikale bydraes tot die nuwe snitte maak.
Kaartjies vir die optrede by Die Boer (om 20:30) kos R150 per persoon en kan bespreek word by 021 979 1911 of www.dieboer.com.
Kaartjies vir die optrede in die Bôrdienghuis-teater in Wellington (19:00) kos ook R150 per persoon en kan bespreek word by Jeannine by 061 156 5386.



