Die VF Plus het weens die kwessie van die onwettige swemmery in die Bergrivier asook die wanorde wat daarmee gepaard gaan, ’n mosie van dringende belang by die Drakenstein-munisipaliteit ingedien met die hoop dat dit tydens verlede week (26 Januarie) se raadsvergadering aangehoor en bespreek sou word.

Volgens André Fourie, ’n raadslid van die VF+, was dié mosie reeds Maandagoggend, 24 Januarie, op die tafel van die stadsbestuurder, Johan Leibbrandt, sowel as die Speaker, Koos le Roux.

’n Geleentheid vir mosies en vrae word eers byna aan die einde van raadsvergaderings aangehoor, wat by hierdie vergadering voor 17:00 was.

Le Roux het gesê Fourie het sowat 30 sekondes om kortliks te verduidelik waaroor die mosie gaan, waarna al die raadslede sal stem of die volle mosie aangehoor en bespreek sal word.

Fourie het op sy beurt die doel van die mosie verduidelik en gesê die 65 raadslede moet hierdie ernstige saak bespreek en hanteer en dat dit nie goed genoeg is dat amptenare net ’n kommunikasie daaroor uitreik nie. “Daar moet politieke betrokkenheid en verantwoordelikheid wees.”

Twee derdes van die raadslede moet ten gunste van die mosie stem dat dit aangehoor moet word, maar dit was slegs nie VF+ wat daarvoor gestem het. Al die ander raadslede het buite stemming gebly.

Moutie Richards, die raadslid van die ANC, het vroeg in die vergadering, nadat Conrad Poole, die burgemeester, sy aankondigings voor die raad gebring het, gesê die ANC is teleurgesteld dat die kwessie oor die Bergrivier nie bespreek word nie en hoewel die munisipaliteit die oggend van die raadsvergadering ’n verklaring daaroor uitgereik het, dit volgends die ANC te laat was.

Richards het ook gesê die ANC ondersteun die gebruik van die Bergrivier deur die inwoners van Drakenstein.

Fourie aan Paarl Post gesê hy het as waarnemer twee vorige burgemeesterskomitee-vergaderings bygewoon en tot sy verbasing was die situasie oor die Bergrivier nie op die sakelys nie.

Hy sê Leibranddt het wel tydens die laaste burgemeesterskomitee-vergadering “al die bespiegelinge en aantygings summier net eenvoudig eenkant toe gevee en selfs gesê hy kon geen wetlike maatreëls oor die beheer van riviere – spesifiek of daarin geswem mag word – vind nie.”

Johan Miller, die burgemeesterskomiteelid wat staatsbestuur en gehoorgewing in sy portefeulje behartig, het aan Paarl Post gesê ’n wankommunikasie het vroeër ontstaan oor of dit onwettig is om in die Bergrivier te swem of nie.

“Die stadsbestuurder het daarom wetgewing nagegaan en gevind dat wetgewing in 1954 ingestel is wat klere was in die Bergrivier verbied het. Die wetgewing wat egter hier relevant is, is die Drakenstein-munisipaliteit se verordening oor openbare geriewe, wat swem in ’n dam, ’n waterstroom en ’n fontein verbied. Dit is tegnies nie onwettig om in die Bergrivier te swem nie, maar dit is onveilig – net soos dit onveilig is om die see te swem,” het Miller gesê.

Miller het ook gesê dit is die rede waarom die munisipaliteit inwoners ontmoedig om in die Bergrivier te swem en van brûe af in die water te spring.

“Wat swem in die Bergrivier veral gevaarlik maak, is die rivier se maalgate en onverwagte diepte. Mense misgis hulle dikwels hiermee en verloor dan hul lewe. Die munisipaliteit wil lewensverlies ten alle koste verhoed. Ons het borde langs die rivier opgerig om mense, wat wel besluit om in die Bergrivier te swem, daaraan te herinner dat hulle dit op eie risiko doen.”

Paarl Post het ook kort voor die raadsvergadering by die Paarl-polisie verneem hulle is bewus van die verklaring wat deur die munisipaliteit uitgereik is – waarin verwys word dat die polisie ook aan boord is – maar dat die polisie egter nie bewus is van so ’n ooreenkoms met die munisipaliteit nie.

Fourie het gesê die VF+ sal ’n amptelike mosie vir die raadsvergadering op 25 Februarie indien omdat die VF+ nie die belange van Paarl se belastingbetalers en inwoners sal versaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article