As inwoner hier in Paarl-Oos wil ek net weet hoe kan sekere skole in hierdie gevaarlike tyd waarin ons leef, nog vir skoolkinders lootjies gee om geld mee in te samel?
Hier was Donderdag 3 Februarie vier meisies van ongeveer nege jaar oud, almal van Loverslane, voor my deur – sonder ouers en sonder maskers – om te vra of ek hul lootjie kan borg. Ons lees gereeld in die koerante hoe kinders seergemaak en selfs vermoor word. Ons moet ons kinders beskerm, en veral laerskole moet dit in ag neem. Daar is ’n baie groot behoefte in verskeie gemeenskappe – kinders kom vra dikwels vir kos, want daar is nie by die huis nie. Daar is dikwels nie eens ’n ouer wat werklik omsien na hul kinders se veiligheid nie, hoekom moet skole ook nou vir kinders leer om bakhand te staan met ’n lootjie?
Sekere ouers is weer in die posisie om sommer self daai lootjiegeld te gee, of oumas, oupas en tannies en oom help om dit vol maak.
Maar kom ons neem ook die kind in ag wat nie so bevoorreg is nie, maar ook deel van die skool se aktiwiteite wil wees.



