Die munisipale raad het tydens die onlangse raadsvergadering in beginsel die vervreemding van ’n erf in Saron vir die oprig van ’n splinternuwe winkelsentrum goedgekeur.
Die erf van ongeveer 1,2 ha sal teen ’n markverwante prys aan JSRR Trading (Edms.) Bpk. verkoop word.
Die voorgestelde ontwikkeling sal bestaan uit ’n mediumgrootte winkelsentrum wat verskeie kleinhandelaars, ’n drankwinkel, ’n gimnasium, ’n klein casino, ’n internetkafee en ’n hardewarewinkel sal huisves.
Volgens die munisipaliteit sal met die voorgestelde ontwikkeling tussen 160 en 180 permanente werksgeleenthede geskep word en nog 100 bykomende tydelike poste tydens die konstruksie-fase.
Die totale waarde van die voorgestelde ontwikkeling is sowat R80 miljoen.
Volgens die verslag wat voor die munisipale raad gebring is, het die aansoeker bevestig dat hy in gesprek is met verskeie nasionale klerewinkels oor die moontlikheid van ’n ankerhuurder.
Die voorgestelde transaksie sal ook in die plaaslike media geadverteer word en inwoners is welkom om besware, kommentaar en vertoë te rig.
Die munisipaliteit noem ook in die verslag dat as gevolg van die haglike sosio-ekonomiese omstandighede van die meerderheid van die Saron-gemeenskap en omliggende gebied moet ekonomiese groei en ontwikkeling bevorder en geprioritiseer word en kan verdere vertraging van ontwikkeling in dié gebied nie bekostig word nie.
Die munisipaliteit noem dat die bevordering van ekonomiese ontwikkeling wat lei tot werkskepping en om geriewe nader aan die gemeenskappe te bring, ondersteun word.
Volgens die verslag het die munisipaliteit ook bevestiging van die streekgrondeisekommissaris in die Wes-Kaap ontvang dat daar geen geregistreerde grondeise teen dié spesifieke erf in Saron is nie.
Raadslid Johannes Smith het tydens die raadsvergadering melding gemaak van die feit dat inwoners van Saron meer as R100 moet bestee om nabygeleë dorpe se winkels te besoek om klere vir hul kinders te koop en dat dié ontwikkeling ekonomiese verligting vir die inwoners van Saron sal bring.
Altesaam 34 raadslede het die ontwikkeling in in Saron in beginsel goedgekeur, terwyl 21 raadslede daarteen gestem en ses buite stemming gebly het.




