Sedert die begin van die jaar is baie op verskeie platforms geskryf en geargumenteer oor die chaos wat tans op baie warm dae langs die Bergrivier in veral die Paarl heers. En hieroor gaan sekerlik vir nog lank bespiegel en geargumenteer word.

Maar wat hierdie argument wel aangewakker het, is die gebrek aan ontspanningsgeriewe in die vallei.

Die fokus vandeesweek is Orleanspark, ’n jare lange gewilde buitelug-ontspanningsgerief vir inwoners.

Maar eerder as om die park gerieflik vir hierdie doeleinde in te rig en in stand te hou, is die park erg verwaarloos en word dit tans eerder as noodverblyf vir haweloses deur die Drakenstein-munisipaliteit gebruik.

Daarbenewens is dit duidelik dat die park verwaarloos is en sy geriewe geensins so waffers is soos destyds nie.

Nog ’n munisipale ontspanningsgerief wat ook al beter dae gesien het, is Antoniesvlei aan die voetenent van Bainskloofpas. Openbare parke in die hartjie van dorpe, soos Victoriapark in Paarl en dié in Wellington, word nie aldag versorg soos dit moet nie. Wellingtonners moes self die leisels neem om hul park teen haweloses, leeglêers en vandalisme te probeer beskerm.

Dit raak elke dag vir Valleiers onduidelik waarvoor hul hemelhoë munisipale belasting gaan, want instandhouding raak al minder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article