Chané Bezuidenhout en hul gesin se geliefde Jesse.


Trane van blydskap het gevloei toe die Bezuidenhout-gesin van Noorder-Paarl ná twee maande hul geliefde Jesse teruggevind het.

Chané Bezuidenhout vertel dat Jesse reeds op 29 November weggeraak het.

Volgens Chané was haar pa, Tommie Bezuidenhout, dié dag besig om hul elektriese motorhek reg te maak en was hy onder die indruk hul honde, Jesse en Milo, was in die huis.

“My pa het seker so ná vyf minute besef hulle is nie in die huis nie en ons het dadelik na hulle gaan soek. Toe ons in die straat kom, het Milo terug huis toe gehardloop gekom. Daar was konstruksiewerkers daar naby vir wie ons gevra het of hulle Jesse gesien het en hulle het gesê albei honde het terug op in die straat gehardloop.”

Chané sê die honde het omstreeks 16:00 uitgeglip en hulle het daardie dag tot donker deur die Paarl se strate gery op soek na Jesse, maar hulle kon haar nêrens kry nie.

Die dae daarna het Chané, Tommie, haar ma, Cornél, en haar kêrel, Fabio Gaspari, daagliks leidrade opgevolg en deur die dorp gery met die hoop dat hulle Jesse sal vind.

Volgens Chané het hulle eers ’n beloning van R2 000 vir Jesse se veilige terugbesorging aangebied, maar dit kort daarna tot R4 000 verhoog met die hoop dat dit meer mense se aandag sal trek om te help kyk vir haar.

“Ons is baie lief vir al twee ons honde en was bereid om enigiets te doen om vir Jesse terug te kry.

“ ’n Man het ons eendag laat weet hy het Jesse in die arboretum gesien en dat hy haar met sy fiets volg. Ons het dadelik arboretum toe gery en my pa het haar op ’n kol gesien, maar sy was so verskrik en bang dat sy vinnig weggehardloop het. Fabio het haar toe weer aan die kant van die kwekery gesien, maar sy het toe weer verskrik weggehardloop in die arboretum.

“Daardie aand het ons vir die mense wat daar woon, gevra of ons nie later daar kan bly nie. Ons het Jesse se kombers uitgesit en haar kos, ons het selfs bacon gaargemaak met die hoop dat die reuk haar na ons toe sal lok, maar niks.”

Nóg ’n man het hulle op ’n ander geleentheid laat weet dat hy ’n hond agter Paarl Mall gesien het, maar dat dit te donker was en hy nie seker was of dit wel Jesse is nie.

“Ons het vir ons ’n roete uitgewerk wat ons daaglik gery het en met elke rit het ons vir Milo saamgeneem. Twee weke gelede toe ry ons weer agter die Paarl Mall en toe raak Milo kriewelrig. Ek het gedink sy wil dalk piepie en ons het toe stilgehou en saam met haar om die voertuig geloop. Net toe Milo terug in die voertuig klim, sien ek vir Jesse agter ’n hek. Ek was vir ’n oomblik nie seker of dit sy was nie, omdat sy so maer was. Ek het vir Fabio geskreeu om die voertuig te stop. Ek het stadig na haar toe geloop, want ek wou haar nie afskrik nie. Sy het haar voorpote op die hek gesit en dan weer af, so asof sy wil kom, maar ook nie seker is of sy moet nie. Toe ek by haar kom, het sy na my toe gekom. Sy was so maer, ek kon haar deur die tralies van die hek tel.”

Chané vertel eers toe sy vir Jesse veilig in haar arms het, het sy uitgebars in trane.

Sy sê die aand kon Jesse nie haar kos binnehou nie en was sy nog baie senuweeagtig. Hulle is die volgende oggend veearts toe met Jesse en buiten dat sy vyf kilogram verloor het, was sy gesond.

“Jesse was aanvanklik bietjie oorgewig, so sy het nie nodig om weer die volle vyf kilogram op te tel nie.”

Chané wil ook ander mense wat dalk in dieselfde boot as hulle sit, waarsku om versigtig te wees vir mense wat jou wil bedrieg. Sy vertel met die beloning wat aangebied is vir Jesse, was daar iemand wat voorgegee het dat hy weet waar Jesse is, maar dat hulle eers vir hom 10% van die R4 000 beloning moet gee voor hy die adres gee.

Chané het egter kopgehou en gesê sy sal al die geld gee sodra hulle vir Jesse het.

Jesse is al die afgelope ses jaar deel van die Bezuidenhout-gesin. Chané het op ’n Stellenbosch-dierewelsyngroep gesien dat hulle iemand soek om ’n mammahond en haar pasgebore werpsels in pleegsorg te neem en omdat sy tyd op hande gehad het en baie lief is vir diere, het sy aangebied om dit te doen.

“Die hondjies se ogies was nog toe, toe hulle by my kom. Ek het hulle versorg tot elkeen ’n huis gekry het, maar ons het besluit om een van die kleintjies te hou en so het Jesse deel van ons gesin geword.”

Chané wil inwoners bedank wat hulle ontferm het oor Jesse en wat hulle laat weet het wanneer hulle vermoed het dat hulle Jesse gesien het.

Intussen is Jesse en Milo weer beste maatjies en speel dié twee asof Jesse nooit weg was nie.

Mense wat graag wil weet hoe dit met Jesse gaan kan die Instagram-blad volg by lil_beasties_sa.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article