Minder as ’n maand ná die bekendstelling van die Kaapse Kamermusiekkollektief (KKMK) in en om Kaapstad, het die kollektief ’n ster-belaaide ensemble byeengebring om nog ’n nuwe Suid-Afrikaanse komposisie by vyf konserte in Kaapstad en die Boland te première.

Die KKMK, ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, bestaan uit musici wat wissel van jong studente tot professionele instrumentaliste, wat toeganklike en inligtinggewende uitvoerings vir alle gehore lewer.

Die name van die ses musici vir dié konserte lees soos die wie’s wie van die Kaapse musiek-arena. Hulle is die televisie-aanbieder en sopraan Lynelle Kenned, bekroonde fluitspeler en dosent Liesl Stoltz, hoboe-speler Joshua Frank, klarinetspeler en algehele wenner van die 2016-Nasionale jeugmusiekkompetisie, Cameron Williams, Franse horingspeler Shannon Thebus en resident-dirigent van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) en Brandon Phillips op fagot.

Dié konserte vind as volg plaas:. In Stellenbosch, Vrydag 11 Februarie om 19:00 in die Endler-saal as deel van die gewilde Endler-konsertreeks.. In Wellington, Saterdag 12 Februarie om 16:00 en 19:00 by die Ou Leerlooiery.. In Bellville, Sondag 13 Februarie om 15:30 by Hoërskool D.F. Malan in samewerking met die Rainbow Exchange.. Rondebosch, Dinsdag 15 Februarie om 19:00 by die Baxter in samewerking met die Suid-Afrikaanse musiekkollege en die Kaapstad-konsertreeks.

Die KKMK het die Suid-Afrikaanse komponis en vooraanstaande jazz-musikant, Paul Hamner, opdrag gegee om ’n nuwe werk spesifiek vir dié ensemble te skryf. Die stuk is ’n versameling van miniature, gegrond op Suid-Afrikaanse volksliedjies en poësie. Dit is ’n kleurvolle toevoeging tot die soel musiekkeuse vir die reeks.

Getiteld Someraande, bestaan die program uit somermusiek vir blaaskwintet deur Amerikaanse komponis, Samuel Barber, die nuwe Hamner-werk en “Les Nuits d’Été” (Someraande) deur Hector Berlioz.

Kaartjies wissel van R120 tot R150. Alle kaartjies sluit verversings en bier by die Ou Leerlooiery in en kan bespreek word by Quicket en deur die KKMK-webtuiste by www.capechambercollective.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article