Die oud-Boishaaier Armand Barnard is ’n man van vele talente. Dié kêrel van die Paarl is te sien in ’n nuwe televisiereeks en werk hard om lewe in sy eerste musiekalbum te blaas.
Armand het sy liefde vir drama en sang ontdek toe hy nog ’n kind was. Oor die jare het sy passie vir die kunste net verder gegroei. In 2019, in sy matriekjaar, het die Hoër Meisieskool La Rochelle ’n teaterproduksie, The Greatest Showman, op die planke gebring en hy het die hoofrol losgeslaan.
“Dit het vir my die wêreld vir die kunste oopgemaak, maar dit het my ook die geleentheid gegee om saam met Edwin van der Walt te werk en in die Kunstekaap op te tree. Ek het ’n klomp mense in die bedryf ontmoet, wat my in staat gestel het om ’n agent te kry en die regte kontakte te kry om die bedryf te betree.”
Armand is in dieselfde jaar ook as die Hoër Jongenskool Paarl se beste kitaarspeler, dramaturg en akteur aangewys. Hy het aan die eindronde van die nasionale KykNet-toneelspelkompetisie by Kunstekaap deelgeneem en die geldprys vir uitnemendheid gewen.
Ná skool het Armand geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer. Hy is tans in sy derde jaar en beplan om te studeer totdat hy ’n doktorsgraad in sielkunde het.
Met al die loopbaankeuses sien Armand daarna uit om sy liefde vir musiek, drama en sielkunde te meng. Hy dink daar is definitief ’n verband tussen dié drie loopbane, en daardeur wil hy graag ander mense help om hul drome te verwesenlik.
“Ek dink as ek vir myself moes kies, sou die werk wees dat ek al drie [loopbane] op die beste manier moontlik kan meng om ander mense te help om hul drome te ontwikkel.”
Armand is in die nuwe Showmax-reeks, Troukoors, as Kevin te sien. Die reeks fokus op ’n troubeplanner wie se lewe ná ’n fratsongeluk in ’n onverwagse rigting gestuur is.
Volgens Armand werk hy in vyf-jaar-planne. Hy is tans besig om toetsliedjies op te neem vir ’n platemaatskappy in die hoop dat hy binnekort sy eerste album kan begin opneem.
Wanneer Armand aan die toekoms dink, wil hy in die volgende vyf jaar by ’n platemaatskappy aansluit waar hy liedjies kan skryf.
Hy sê hy wil ook graag as akteur werk.
“Ek is dol oor akteurswerk. Ek sal dit vir niks anders verruil nie. Ek sal dit doen vir so lank as wat ek dit moontlik kan doen. As ek die kans kry, sal ek baie graag in ’n KykNet-fliek wil speel, of in ander Afrikaanse reekse. In hierdie stadium speel ek net in Troukoors, maar ons kyk wat op die horison wag. My prioriteit is ook om my studies en my album klaar te maak.”
Armand voeg by: “My doelwitte is eintlik baie eenvoudig. Ek dink as jy eenvoudige doelwitte het, kom die moeilike dinge makliker.”
* Former Boishaaier Armand Barnard is a man of many talents. The young man from Paarl can be seen in a new television series and is working hard to breathe life into his first music album.





