Suzuki verpletter al sy eie vernaamste rekords in een maand:
. Top-3-posisie vir Suzuki met nuwe verkoopsrekord
. Suzuki Swift word die eerste model waarvan meer as 1 000 eenhede in een maand verkoop word
. Alle handelaars oortref hul teikens met ’n nuwe algehele handelaarverkoopsrekord
. Suzuki Bassonia stel nuwe enkelhandelaar-rekord op met die verkoop van 161 voertuie
Dit gons behoorlik in die Johannesburgse hoofkantoor van Suzuki Auto Suid-Afrika nadat die handelsmerk feitlik elke verkoopsrekord in een maand oortref het.
Naamsa, die bedryf se beheerliggaam, het Maandag aangekondig dat Suzuki Auto Suid-Afrika in Januarie ’n nuwe verkoopsrekordhoogtepunt van 3 232 voertuigverkope aangeteken het. Net so indrukwekkend, aldus die Naamsa-statistieke, is dat die handelaarsnetwerk 2 551 van hierdie eenhede – die meeste nog – van die hand gesit het.
“ ’n Handvol nuwe handelaars het in Januarie by die Suzuki-familie aangesluit. Dit bring ons netwerk op 78 handelaars te staan,” sê Henno Havenga, bestuurder van handelaarsverkope by Suzuki Auto Suid-Afrika.
“En wat ’n gepaste verwelkoming vir ons nuwe handelaars om te sien hoe hul eweknieë alle vorige verkoopsrekords oortref. Trouens, ons vyf tophandelaars het in Januarie saam 530 nuwe Suzuki-modelle verkoop, en 20 handelaars – van Klerksdorp tot Gqeberha – het elk meer as 50 eenhede in die maand verkoop.”
Die vyf tophandelaars was Bassonia (161 eenhede, ’n nuwe heeltydse handelaarsrekord), Northcliff (104 eenhede), Menlyn (93 eenhede), Bryanston (89 eenhede) en Bramley (83 eenhede).
Hoewel Suzuki se handelaarsnetwerk baie krediet verdien vir hul hulp om die handelsmerk se verkope nuwe hoogtes te laat bereik, het die korporatiewe en vlootverkoopspan ook alle verwagtinge oortref. In Januarie het hierdie afdeling 681 voertuie aan korporatiewe, vloot- en staatsklante verkoop.
In sy oorsig van die nasionale verkoopsyfers, sê Naamsa die bedryf is geleidelik aan die herstel van die Covid-19-verwante insinking. Plaaslike verkope het met bykans 19,5% verbeter teenoor verkope in Januarie 2021. In teenstelling hiermee het Suzuki se verkope met 73% gestyg as dit met Januarie 2021 vergelyk word.
“Vandag vier ons boonop ’n nuwe mylpaal vir ons geliefde Suzuki Swift en Swift Sport. In Januarie het dit die eerste Suzuki-modelreeks geword waarvan meer as 1 000 eenhede in een maand verkoop is,” sê Havenga.
Altesaam 1 058 Suzuki Swift- en 11 Swift Sport-modelle is in Januarie verkoop. Sewe ander modelle, die S-Presso, Jimny, Super Carry, Dzire, Vitara Brezza, Ertiga en Baleno het driesyferverkope behaal.
Die rekordverkope in Januarie stel ’n stewige grondslag vir Suzuki Auto, sy handelaarsnetwerk, en sy klante vir die res van 2022. “Ons het hard saam met ons hoofkantoor in Japan gewerk om ons bestelvolumes en verkrygings-bestemmings te vermeerder, ons produkaanbod te vergroot en prysstygings in toom te hou. Dit is reeds duidelik in ons reeks tans, maar sal selfs duideliker word namate ons in die komende maande ’n magdom produkopgraderings en nuwe modelle bekendstel,” sê Havenga.





