Die bekende streeklanddros, Patrick Ross het na vele jare se diens in die departement justisie, die tuig neergelê.
Ross, wat ná 38 jaar aftree, is die seun van Solomon en Josephine Ross en is een van 10 kinders wat in Newton grootgeword het. Die gesin het later na Spes Bonastraat in Paarl-Oos verhuis waar Ross ook sy skoolloopbaan by Paulus Joubert Sekondêr voltooi het.
Ross se pa was die legendariese middelafstand-atleet wat Suid-Afrikaanse kleure verwerf het en onlangs in die Helde Akker in Parys-begraafplaas ter ruste gelê is.
Ross het onder moeilike omstandighede sy BProc- en LLB-grade verwerf en het deur sy studies steeds gewerk. Hy het in ’n stadium as plaaswerker gewerk asook ’n onderwyser om brood op die tafel te sit.
In 1982 het hy as klerk in Johannesburg begin waarna hy as aanklaer in Wynberg gewerk het. Ross het in latere jare die eerste swart landdros in Wellington geword.
Hy het daarna as landdros by die Paarl-streekhof waargeneem en is later permanent daar aangestel. Hier het hy tot sy aftrede op 30 April 2020 gewerk.
Maar behalwe vir sy bekendheid as landdros, is hy ook bekend vir sy liefde en passie vir karate. Hy is ’n vyfde dan karate-instrukteur en hoof van sy eie karateklub, Patrick Ross-karate-akademie, en is tans die voorsitter van Cape Winelands Karate.
Ross se jongste seun, Marcello het nie net sy pa se voetspore in karate gevolg nie, maar ook in die regte.
Marcello is op 21 Januarie vanjaar as aktebesorger in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegelaat.
Dié oudleerder van Klein Nederburg Senior Sekondêr (gr.8-10) en Hoër Jongenskool Paarl (gr.11 en 12), vertel hy is oorstelp met blydskap. Marcelle was ook ’n leerder van Paarlzicht Primêr.
Marcello verduidelik, om ’n aktebesorger te wees, behels onder meer die oordragte van eiendomme en die registrasie van verbande asook die kansellasie van verbande.
“Hierdie eksamen word geskryf ná verwerwing van jou LLB, voltooiing van jou klerkskap van twee jaar as kandidaatprokureur en toelating as prokureur. Indien ’n persoon toegelaat wil word as ’n aktebesorger, moet hy/sy twee baie moeilike eksamens aflê.”
Volgens Marcello is die slaagsyfer ongeveer 20%.
“Ek is oorstelp van vreugde en terselfdertyd verlig dat ek hierdie moeilike eksamen kon slaag. Ek wil ander inspireer om ook die eksamen eendag af te lê – veral jong swart prokureurs aangesien daar so min aktebesorgers in Paarl en selfs die land is.
“Ek is een van die jongste swart aktebesorgers wat tans in die Paarl praktiseer, heelwaarskynlik die jongste,” vertel hy.
Marcello is tans ’n assosiaat by Van der Spuy en Vennote waar hy spesialiseer in kommersiële, eiendoms- en munisipale reg.
Hy behou tans ’n LLB en nagraadse diploma in kommersiële reg. Hy is ook ’n lid van die raad van Boland Kollege, die nuutgestigte munisipale regsforum en ’n vierde dan karate-instrukteur by die Patrick Ross-karate-akademie.. The well known Paarl Magistrate Patrick Ross has retired after a career spanning 38 years. And that while his son Marcello has just been admitted as conveyancer to the Western Cape High Court.





