Die man in die spieël sal nie lieg nie, want daar staan ek en al wat deur my gedagtes maal, is die woorde “mater, so kan dit nie aangaan nie”. En soos ’n herhaal-sepie speel die vorige naweek voor my af. Die taaisous-varkribbetjie perfek gaargemaak. Dit was nie genoeg nie. Die hoenderporsies, drie verskillende soorte slaaie en die braaibroodjies moes alles mooi afrond. Daar was stilte rondom my bord soos ek weglê aan elke krieseltjie lekkergeit voor my.
Dit voel soos ’n maal tien-ervaring as ek die feestyd by tel toe absoluut niks ontsien of gespaar is wanneer dit by die kostafel kom nie. Daar was jou tradisionele tong, ham, boud en al die ander bygeregte. Die seekosgeregte was maar weer eens my gunsteling. Dis asof ek nou nog daai nasmaak van die kreefstertpot kan proe. Hemels. En hier en daar was daai kerrieafvalpot of snoek-oor-die-kole met tuisgebakte brood daarby. So ’n lus vir die oog en maag dat selfs iemand wat op ’n eetstaking gaan, sal sukkel om nee te sê.
Jy moet verstaan, ek is iemand met ’n groot waardering en respek vir kos. Van kos mors hou ek nie, want met my gewete sal ek nie kan saamleef as ek dink aan soveel wat dit daagliks nie so breed het nie.
Uitsoekerig oor wat daar op die spyskaart mag wees, is ook nie een van die eienskappe wat jy by die uwe sal vind nie. Nee wat, solank dit geniet kan word saam met hulle wat ’n maaltyd met vreugde en dankbaarheid kan voorsit, is ek deel van die span. My span of spanne wat al saam met my die feesmaaltafel betree het, sal jou goed kan vertel wat die impak op my is as hierdie broodnodige verskynsel nie daar is nie. Het jy al gesien hoe lyk ’n beer met ’n pendoring in sy poot? Wel, daar het jy die prentjie! Daai knaag op die maag maak my baie gou kriewelrig, knorrig en sommer pleinweg onplesierig by tye.
Terug na die man in die spieël besef ek met leedwese dat die prentjie voor my drasties begin verander het van die eens atleties geboude jong bul in sy vroeë dertig na die kruising tussen ’n oorgewig polisiebeampte en soldaat wat moedig probeer om volk en vaderland te beskerm hier skuins na veertig. Voor my staan ’n skaduwee van dit wat eens my trots was. Daai vinnige metabolisme wat kos teen die spoed van wit lig kon verbrand en ek daai titel van ’n lekker atleties geboude lyf kon behou. Nou nie meer nie, want waar daai amper sespak voorheen was, het ’n doedelsak skelmpies sy opwagting begin maak.
Dis daai opmerking van my vriend by die braai met die taaisousribbetjie wat die hele spieëlgedoente tot gevolg gehad het. Jong, ons wingerdtrosse lyk my groei wraggies deesdae al meer onder die skadu, was sy presiese woorde.
Daai woorde het my soos ’n pap snoek teen die voorkop geslaan. Wil jy voorgee ek is vet? Dalk jy, maar nie ek nie. En daarmee saam die doedelsak probeer intrek om die reine waarheid te probeer verdoesel, maar slegs van korte duur.
Jy sien, ná vier dekades kan ’n man ook jou asem net só lank inhou! En ons lag maar vrolik verder vir die doedelsak wat die geheim van die taaisousribbetjie, die kerrieafvalpot, gebakte brood en koekstruif verraai.
Die groot vraag vir die pad vorentoe is hoe gemaak met al die oortollighede wat oral sy kop of nek uitsteek. En hier gaan my breinselle in vyfde rat. Dalk is ’n besoek aan die gim ’n goeie opsie. Of dalk nie, want liewe souskluitjie, ek was eeue laas daar.
Dalk sal ’n ligte eetplan werk. Daai een met die neut en ander konkoksies daarby. Dit verminder glo die eetlus en maak die maag lekker skoon. Of dalk net brood heeltemal uitsny en meer gestoomde disse saam met proteïen-gevulde slaaie daarby.
Sjoe, ek sien sommer alreeds hoe ek weer skuins voor die begin van die winter my dertig jaar plus atleties geboude lyf terug het. Ek meen, ek stap darem ook gereeld. Kan dalk een van die dae ’n bietjie draf ook bywerk. Dan behoort my plan perfek uit te werk.
Dis die klop aan my woonsteldeur wat my skielik weer terugpluk na die werklikheid en my doedelsak. Dis die buurman langsaan. Goeie mense met soveel omgee vir ander. Hulle het heerlike gebakte snoek en skyfies vir die aand bestel. Ongelukkig te veel bestel en sal graag met my wil deel. So ken ek hulle. Altyd iets oor vir iemand anders.
My wroeging met die man in die spieël ’n paar minute gelede wil instinktief nee sê, maar hoe kan ek? Ten minste nie vir my buurmense nie. My vriendelike self bedank vir buurman. Ek kan mos nog altyd iemand anders gaan seën met hierdie ruim porsie.
Wel . . . tien minute later. Die gebakte snoek en skyfies was heerlik!




