’n Vullishouer is dalk iets wat inwoners gemaklik voel om op vullisverwyderingsdae buite hul erwe te los, maar dit blyk dat dít ook meer gereeld gesteel word.

Die vullishouers van ’n paar inwoners van Charleston Hill in Paarl-Oos is twee weke gelede helder oordag gesteel.

Paarl Post het met ’n man gesels, wat in een van die informele nedersettings in Paarl-Oos woon, en hy vertel dat baie mense wat in informele nedersettings woon dié gesteelde vullishouers koop, omdat hulle nie ’n vullishouer besit nie en ver moet loop om hul huishoudelike afval te stort. Die vullishouers word dan gebruik om die vullis tot by die naaste skeepsvraghouer te neem, maar hy sê ook nie almal gebruik dit vir die regte redes nie.

Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, is altesaam 31 vullishouers gedurende Desember 2021 as gesteel aangemeld, en nog 57 as beskadig.

Esau sê wanneer ’n vullishouer privaat op ’n wettige manier gekoop word, kos dit die koper tussen R600 en R800.

Paarl Post het egter verneem munisipale vullishouers word op die onwettige mark vir tussen R60 en R100 verkoop.

Om dié onwettige bedrywighede te stuit, sal jy dalk dink die munisipaliteit moet elke informele huis van ’n vullishouer voorsien, maar volgens Esau het die munisipaliteit vroeër ’n toetslopie gedoen en vullishouers aan informele inwoners op die erwe van formele wonings (in Paarl-Oos) uitgedeel.

“Ons het die situasie oor ’n tydperk van drie maande fyn gemonitor. Ongelukkig het onwettige vullisstorting in daardie gedeelte van Paarl-Oos nie afgeneem nie. Ons het gevind dat die vullishouers gebruik word as stoorplek of vervoermiddel om hout, grond, klippe en sand te vervoer – pleks daarvan om vullis daarin te stort,” verduidelik Esau.

Hy sê die munisipaliteit voorsien alle informele wonings weekliks van twee vullissakke om vullis in te stort.

“Wieletjiedromme is nie gemaak om oor klippe, modder, gruis of enige ongelyke oppervlaktes getrek of gestoot te word nie. Die asse en plastiekwiele breek of kraak in so ’n geval.

“Die munisipaliteit voorsien alle inwoners van formele wonings en besighede van 240-liter-vullishouers. Die houers bly egter die eiendom van die munisipaliteit en niemand mag so ’n houer koop, verkoop of handel daarmee dryf nie.”

Hy verduidelik vullishouers word vervaardig om ’n minimum van vyf jaar te hou, maar baie houers waarna goed omgesien word, is al vir 10 jaar in gebruik.

“Die Drakenstein-munisipaliteit voorsien die eerste wieletjiedrom gratis aan elke formele woning of sakeonderneming. Dit is onderhewig aan ’n deposito van R896,50. Sodra die inwoner of eienaar skriftelik kennis gee dat hy of sy die eiendom verlaat, word houers teruggeneem en die deposito word terugbetaal.

Maar wat gebeur as jou vullishouer gesteel word en dalk meer as een keer?

Esau verduidelik: “Indien die wieletjiedrom gesteel word, moet die inwoner of eienaar ’n skriftelike kennisgewing, met ’n saaknommer, aan die munisipaliteit voorsien, waarna die munisipaliteit ’n nuwe houer sal voorsien. Sou ’n tweede houer gesteel word, moet die inwoner of eienaar ’n skriftelike kennisgewing aan die munisipaliteit voorsien en 50% van die waarde van die houer betaal, waarna die munisipaliteit ’n nuwe houer sal aflewer. Indien ’n derde houer gesteel word, moet die inwoner of eienaar 100% van die waarde van die houer betaal, waarna die munisipaliteit ’n nuwe houer sal aflewer.”

Esau sê die munisipaliteit kan wel die eienaar van die houer opspoor met behulp van die vullishouer se reeksnommer.

Indien iemand ’n vullishouer aan jou wil verkoop, skryf die reeksnommer neer en kontak die munisipaliteit se afdeling vir vaste afval by 021 807 4708.

Wanneer jy iemand met ’n vermoedelik gesteelde drom sien, skakel wetstoepassing by 021 807 8508 (alle ure), neem ’n foto van die houer se reeksnommer, asook van die “verkoper”.

. Municipal wheelie rubbish bins are being stolen right across the valley and sold in a lucrative black market.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article