Paarl Post en Rembrandt Mall is weer op soek na die Vallei se Huishulp van die jaar – hierdie dikwels onbesonge helde van huishoudings.
Ons wil eer betoon aan huishulpe van die Vallei wat vir twee jaar of langer by ’n huisgesin werk en by algemene huistake betrokke is en / of met die kinders help.
Al die inskrywings van die betrokke maand se foto’s sal met hul en hul werkgewers se name verskyn, tot aan die einde van die sperdatum op 27 Oktober
Paarl Post sal die 10 finaliste met hulle stories op 10 November aankondig.
Hierdie 10 finaliste sal op 1 Desember ’n mini-mooimaaksessie by Rembrandt Mall bywoon, waar hulle bederf sal word met geskenkbewyse en ’n langtafelondervinding by Café Frenchie, waartydens die algehele wenner aangekondig sal word.
Om deel te neem is heel eenvoudig. Die werkgewer moet ’n paragraaf van nie meer as ±100 woorde skryf hoekom hy / sy hul huishulp wil benoem, asook haar ouderdom en hoe lank sy deel van die gesin is. Ons wil ook weet wat hierdie huiswerker so spesiaal maak dat sy as wenner gekroon moet word. Heg ook ’n kop-en-skouer-foto aan en bring dit tesame met die R50-inskrywingsfooi na Paarl Post se kantoor in Newstraat 1A (langs Virgin Active).
Die 10 finaliste se foto’s asook hul verkorte stories sal op 10 November in Paarl Post aangekondig word. Nadat die wenner aangekondig is, sal ’n volbladberig met die dag se aktiwiteite asook die borgbedankings verskyn.
Die wenner is iemand wat gewoonlik die leemte inneem van ’n ma wat voltyds werk om die pot aan die kook te hou. Hierdie taak word dikwels as vanselfsprekend aanvaar en baie huishulpe verdien ’n vasgestelde salaris met min voordele.
Maak vandag ’n verskil in die lewe van die mens wat jou hele huisgesin op haar hande en in haar hart dra en skryf haar / hom in om vir ’n dag bederf te word. Buitendien – hulle verdien dit!. Om in te skryf, sien bl. 29 vir inskrywingsvorm.





