Moegamat “Gammie” Salie van Wellington wys sy eerste Hot Wheels- en Datsun- pasgemaakte karretjie.


Versamelaars sal dikwels sê dié gier is ’n verslawing, net soos in die geval van Moegamat “Gammie” Salie (62) van Wellington.

Sy “verslawing” is om miniatuur-kar-modelle soos Hot Wheels te koop, soms te pasmaak, en selfs van hulle te verkoop.

Tog is hy nie van diegene wat al sy karretjies in hul boksies hou nie, maar breek graag die seël om met elkeen in sy netjiese vertoonrakke te pronk.

“Ek koop dit vir myself om te geniet. Dit is vir my ’n plesier wanneer ek hier by my werkstasie sit, dan kan ek al my karretjies sit en bewonder.

“Dié versameling het in 2015 begin toe my broer my eerste Hot Wheels-karretjie uit Australië gepos het. Ek versamel hoofsaaklik by Checkers en Pick’n Pay en het tans so 1 000 karretjies.”

Gammie sal soms ’n stalletjie by Bergrivier Apteek opslaan en van sy karretjies verkoop aan veral jonger kinders, wat dié passie deel.

“Ek gaan kyk ook gereeld by Cape Hobby Club se drie-maandelikse Toy Fairs, sowel as by meet & greets of WhatsApp-groepe waar versamelaars in aanraking kom om te koop, te verkoop en te ruil.”

Hy fokus sy stokperdjie op slegs kommersiële motorhandelsmerke eerder as die “gedrog-karretjies” wat meer op die jonger mark gefokus is. Sy gunsteling is GDM Japan se motormodelle soos Datsun en Nissan.

“Wat die stokperdjie ook spesiaal maak, is die ‘Treasure Hunt’-uitgawes wat beperk en skaars is. Die karretjies ken mens uit deur die plakker, ’n vlammetjie omring met ’n sirkel. Hulle is teen die gewone prys van ander reekse verkoop, maar die uitdaging lê daarin om hulle te ontdek.

“Die dag wanneer ’n mens die ‘Treasure Hunts’ ontdek, voel jy weer opgewonde soos ’n kind. Jy neem dan sommer ’n foto van waar jy dit op die rak gekry het, en deel die ervaring op groepe.”

Wanneer so ’n skat ontdek is, sê Gammie, is dit belangrik om die Treasure, sowel as die gewone model, te koop en die strokie te hou – om die spesialiteit daarvan ten toon te stel.

Party Super Treasure Hunt-modelle is met Spectra Flame Paint bedek en spesiaal gemaak met magnesium-wiele (mags) en rubberbande.

“Dit is ook pret om van die modelletjies te pasmaak en met fyn gereedskap om te skep, wat ’n mens in staat stel om die outydse karre wat jy besit, soos my Datsun byvoorbeeld, na te maak. ’n Mens sal dan die karretjie uitmekaar boor, die verf verwyder en soms die enjinkap lossaag en dan weer sommer met blikkie-verf oorsprei.”

Gammie sê hy is iemand wat nie kan stilsit nie en heeldag met sy hande bedrywig is. Maar diegene wat al met hom in aanraking was, sal weet dat hy as kind aan polio gely het.

“In die 1950’s was dit nog ’n gereelde verskynsel, en wat so snaaks daaraan was, is dat ek en my sibbe teen polio ingeënt was. Ek het vir ’n onbekende rede nietemin siek geword toe ek 11 maande oud was.”

Hy deel graag sy verhaal omdat hy glo dit is belangrik om dié soort gestremde leefstyl as bewusmaking te deel.

“In die ou dae was daar staatsdienstehuise wat my opgeneem het om my te ondersteun en die nodige versorging gebied het. Ek het deur my hele lewe al hordes operasies gehad om korrektiewe chirurgie vir my spiere wat aangetas was, te ondergaan.”

Hy verduidelik dat spesialiste die diens gelewer het en fisieke gebreke, soos Gammie se duime wat verlam is, aan te pas met spier-oorplantings. Sommige operasies moes uitgevoer word namate Gammie ouer geword het en wanneer sy liggaam dit kon hanteer.

“Ná operasies moes ek natuurlik fisioterapie ondergaan. Soms moes ons kinders tot ses maande op ’n keer bedlêend in die tehuis gewees het om te herstel. Dit het soms verskriklik lank gevoel, maar gelukkig was ek nie die enigste nie – daar was baie van ons so in beperking. Dit was soms baie pret.”

Hy vertel dat pyn ’n daaglikse verskynsel is.

“Dit voel later jou hele lewe is pyn, maar ’n mens moet leer hoe om dit gewoond te raak. Die susters sou gereeld vra of ons seer het en verdowingsmiddels wou hê. Later pyn jy steeds, maar jy wys maar verdowingsmiddels van die hand. ’n Mens raak dit gewoond.”

Gammie is eers toe hy op agt-jarige ouderdom kon leer skryf, skool toe gestuur. “Ek het matrikuleer en daarna by die handdoekfabriek as tekstielontwerper gaan werk. Vandag doen ek nog ontwerpe met Vinyl-plakkers, T-hemde, pasgemaakte nommerplate vir troukarre en sommer baie meer.”

Sy huidige fisieke uitdagings is sy skouers wat spasties raak en soms erg pyn. “Die uitdaging sal ook dan lê om by die hospitaal kortisoon-inspuitings gegun te word.”

Gammie was onlangs selfs op KC Radio uitgenooi om sy merkwaardige lewensverhaal op die lug te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article