Vir baie is dit dikwels moeilik om pen op papier te sit, maar vir die oud-Gimmie Marshin Cupido is skryf sy toevlug en uitlaatklep.
Die 24-jarige Marshin, van New York in Paarl-Oos, het onlangs sy eers digbundel vrygestel en vertel dat hy al van skooldae ’n liefde het vir skryf. Van sy gedigte is reeds toe hy op hoërskool was in die Poort Publikasies gepubliseer.
“Ek hou daarvan om te skryf oor die dinge wat ek sien. Veral in my gemeenskap. Skryf is my toevlug. As dinge my gelukkig maak skryf ek, as ek hartseer is skryf ek, as iets my grief, gryp ek die pen – ek wou dit met mense deel.”
Marshin se eerste digbundel getiteld Yt My Oeg, is in Afri-Kaaps geskryf en deel presies dit wat die titel sê, alles wat hy vanuit sy oogpunt sien.
“Ek lig dit net uit, dat dis hoe ek dit sien. Dis hoe ek my gevolgtrekkings maak van die dinge wat ek aanskou.
“Die bundel spreek kwessies aan waarmee ons almal ons kan vereenselwig. Die klein goedjies in die lewe, dit wat regtig saak maak, word uitgelig in hierdie digbundel.
“Ek praat ook hard en leer die leser ’n paar lesse. Deesdae is skinder en om agteraf te wees in die mode. Families wat opbreek as gevolg van erfgoed, ouers wat hul kinders se foute wegsteek maar wat eerste is om ander se kinders se foute uit te basuin. Dis nie ’n hoë woorde, mooi woorde, jam om die mond smeer tipe bundel nie. Dis eerlik, opreg.”
Volgens Marshin was sy familie en sy gemeenskap die motivering agter die Afri-Kaapse digbundel.
“As ek by my venster uitkyk, het ek ’n gedig. As ek in my straat afloop, het ek ’n gedig. Ek skryf dit in plat Afrikaans, soos ek praat, want dis deel van wie ek is. My herkoms. Ek moes hierdie bundel skryf, want daar is regtig ’n ietsie in vir almal.”
Hoewel dit hom slegs twee weke geneem het om sy skryfwerk te voltooi, wou hy amper tou op gooi toe hy en sy ma op dag drie van sy skrywe positief vir Covid-19 getoets is.
“Dit was aaklig. Ek wou dit net so los. Maar in my 10 dae van kwarantyn het ek die laaste 30 gedigte klaar geskryf. As ’n mens so alleen is en jy mediteer met jou innerlike self, vertel jou hart vir jou die mees ongelooflike stories.”
Hy vertel dat wanneer hy skryf, bevind hy homself in ’n ander wêreld en geniet hy dit verskriklik baie.
“My vrou het sommige aande gedink ek is mal wanneer ek eenuur in die nag die pen en papier gryp en begin skryf en dan lag ek ook nog kliphard vir dit wat ek skryf.”
Marshin sê dat hy glad nie verwag het dat Malherbe Uitgewers sy digbundel gaan goedkeur vir publikasie nie.
“Ek was stomgeslaan. Ek het regtig gedog dit gaan vir ewig net in my hard cover-boek wees.”
Maar skryf doen Marshin nie net skielik in die nag nie of wanneer die skryf-gogga byt nie, dit is ook deel van sy daaglikse werk as rolprentskrywer.
Ná skool het hy film- en televisiekunde by Big Fish School of Digital Filmmaking in Kaapstad studeer.
“Ek is ’n rolprentskrywer en ook regisseur. So storie vertel, of dit nou visueel of geskrewe is, is deel van my.”
“Ek het in 2017 op die ouderdom van 20 my eerste fliek, Die SMS, geskryf en die regie behartig. Dis ook waar ek die goeie nuus van die Suid Afrikaanse Film en Publikasieraad gekry het dat ek die jongste skrywer en regisseur van ’n vollengte fliek in Suid-Afrika is,” vertel Marshin.
Hy sê dié fliek het in 2020 Beste Buitelandse Fliek by die Broadway International Film Festival in Los Angeles gewen.
“Ek het ook Misunderstood vervaardig waarin die Black Panther-aktrise Connie Chiume en Luthuli Dlamini die hoofrolle vertolk. As ek nie groot flieks doen nie, skiet ons bemarkingsvideo’s, advertensies en so voorts.”
Yt My Oeg is te koop by Bargain Books en aanlyn by Malherbe Uitgewers.





