Dirk BreytenbachFoto:

Credit: SYSTEM

Die Sentrale Energiefonds se aanduiding dat die petrolprys aanstaande maand met R1,25/l kan styg en diesel met R1,29/l, voorspel niks goeds vir ons wankelende ekonomie nie.

Plaaslike besighede is op ’n moeilike herstelkurwe ná die ekonomiese chaos waarin ons steeds verkeer as gevolg van streng Covid-maatreëls.

Plaaslike toerisme word weer eens geweldig onder druk geplaas met die vakansietyd op hande en herstel in daardie sektor sal daardeur verder verlangsaam. Tans word staatgemaak op plaaslike toerisme om die wa deur die drif te trek, maar daardie hoop vervaag met elke verho­ging.

Ekonomiese druk sal ook in die vervaardiging- en vervoersektore toeneem weens die uitkringende effek wat brandstof in besighede se kosteketting verteenwoordig.

Uiteindelik word verbruikers op elke vlak geraak deurdat brandstofprysstygings na kleinhandelspryse deurgevoer word. Dit sal die land se ekonomie dalk baat om die verskeie heffings, wat ook in hierdie proses verhoog, dié ronde buite rekening te laat om ons brose ekonomie ’n kans te gee.

Wat veral vir die Sakekamer kommerwekkend is, is dat die lae inkomstegroepe erg hierdeur geraak word omdat vervoer ’n groot komponent van hul inflasiemandjie verteenwoordig. . Dirk Breytenbach is die uitvoerende voorsitter van die Drakenstein Sakekamer en Sihlalo.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article