Die VF+ in die Drakenstein gaan môre (25 Februarie) weer ’n mosie indien tydens die maandelikse raadsvergadering van die Drakenstein-munisipaliteit in verband met die chaos en toestand van die oewers van die Bergrivier, soos die afgelope paar maande in die Paarl ervaar.

Die VF Plus meen hierdie is ’n uiters belangrike en komplekse probleem en die toekoms daarvan moet aangespreek word om belastingbetalers en hul eiendom in die gebied van die rivier te beskerm.

Vroeër vanjaar was die inwoners ont­huts gelaat toe duisende mense oor nawe­ke op die oewer van die Bergrivier in die Paarl toegesak het. Grootskaalse wette­loos­heid het plaasgevind asook rommel­strooiery en ander ongewenste gedrag, tot die groot skok en ontevredenheid van veral inwoners van Vrykyk.

Met die vorige raadsvergadering het die VF+ ook die kwessie probeer aanspreek, maar is slegs 30 sekondes deur die speaker van die raad gegee om hul saak te stel.

Die VF+ wil hê dat onder meer ’n ondersoek van stapel gestuur word oor hoekom senior raadslede nie vroegtydig opgetree het om hierdie probleem dadelik aan te spreek voordat dit handuit geruk het. Ook, wat gaan die langtermyn­oplossing wees om die rivier te bewaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article