Ná hul uitstekende afskop, met vier agtereenvolgende oorwinnings in die Boland Premierliga, het Paarl-krieketklub skielik stoom verloor en Saterdag weer die onderspit gedelf. Dit was in hul wedstryd teen Van der Stel in Stellenbosch, waar hulle met 94 lopies verloor het.
Alle aanduidings was dat dit ’n goeie besluit was om die tuisspan te vra om eerste te kolf, veral toe Kyle Solomon (9-0-42-2) met die eerste bal van die wedstryd deurgebreek het. Met Tylon Matthee (10-1-17-1) wat met sy beste skof van die seisoen byna onspeelbaar was, het Van der Stel in die 12de boulbeurt gesteier op 3/22, maar Byron Haycock (31, 1×4) en Lauren Smit (39, 3×4, 1×6) het kom vasskop met ’n geduldige vierdepaaltjie- vennootskap van 45 lopies (2×4, 1×6). Grant Chordnum (2/41) en Edrique Cook (2/50) het ook hul kant gebring met die bal, terwyl kaptein Waylain September (10-2-37-1) sy gebruiklike ekonomiese skof geboul het. Die tuisspan het egter hul kolfdiepte ten toon gestel met pragbeurte deur Bernard Snyman (39, 3×4, 1×6) en Wybri Thuynsma (56, 1×4, 1×6), om hul beurt af te sluit op 215/9, ná 50 boulbeurte.
Vir Paarl (121) het die aanvangskolwer Robin Andrews (34, 6×4) die beste vertoon, veral in die waardevolle derde- paaltjie-vennootskap van 47 lopies met September (18). Byron Walters (19) was die enigste ander Paarlse kolwer wat kon weerstand bied teen die akkurate boulwerk van Snyman (10-2-18-3), Thuynsma (5-0-25-3), Dylan Ross-Watt (5-1-15-2) en Aiden Meyer (8.2-0-19-2).
Eerskomende Saterdag ontvang Paarl besoek van Vredenburg-Saldanha KK, terwyl Paarl II weg speel teen hul eweknie aan die Weskus.




