’n Oud-Gimmie Du Toit Genis (29), is verlig nadat die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) uiteindelik sy honneursgraad-sertifikaat aanvaar het wat hom nou amptelik toelaat om as gesondheidswerker te kan registreer.
’n Herrie het onlangs ontstaan toe die raad geweier het om Du Toit se universiteitskwalifikasie te aanvaar omdat die sertifikaat in Afrikaans uitgereik is.
Du Toit, ’n meestergraadstudent in sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg, het verlede week aan Paarl Post gesê hy wou nooit hieroor hof toe gaan nie, maar oor hy gevoel het dat sy burgerlike regte geskend word, sou hy die paadjie wel gevolg het.
“Ek wil nie eintlik hê die sage moet in die hof beland nie, maar dit is ook in die belang van my konstitusionele reg dat my sertifikaat aanvaar word in die taal waarin dit uitgereik is.”
Maar danksy druk wat van AfriForum op die RGBSA geplaas is, het hulle uiteindelik van mening verander en Du Toit se sertifikaat aanvaar.
Genis het hom tot dié organisasie gewend nadat die RGBSA sy aansoek om registrasie geweier het weens Afrikaans, maar slegs nadat AfriForum se regsverteenwoordigers ’n semidringende hofaansoek teen die RGBSA ingedien het.
Die saak is teruggetrek nadat die raad se regsverteenwoordiger skriftelik bevestig het dat Genis wel nou geregistreer is.
Genis se vroeëre herhaaldelike vertoë dat die RGBSA sy aanvanklike besluit heroorweeg, het op dowe ore geval.
AfriForum beskou die gebeure as ’n oorwinning vir Afrikaans. Genis moet as ’n intern-sielkundige by die RGBSA registreer om sy meestersgraad in sielkunde te voltooi. Daarvoor moes hy onder meer ’n afskrif verskaf van die sertifikaat wat bevestig dat hy in 2018 ’n honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het. ’n Verteenwoordiger van die raad het hom in kennis gestel dat die registrasieproses nie kan voortgaan nie omdat die sertifikaat in Afrikaans is.
Du Toit, van die Paarl, werk tans as ’n sielkundige intern as deel van sy opleiding terwyl hy besig is met sy meestersgraad in sielkunde.
Genis het op skool vir die Hoërskool Gimnasium se eerste span rugby gespeel en is noorde toe gelok waar hy vir die Bulle uitgedraf het.





