Die inwoners van Panoramastraat in Denneburg was verlede Maandag (14 Februarie) in rep en roep toe iemand ’n opslaanhuis op ’n oop stuk erf wou oprig.

Paarl Post het met Leon Bester, wat twee erwe weg van die leë erf woon, gesels.

Bester, wat ook betrokke is by die Denneburg-noodgroep, sê hy woon al die afgelope 22 jaar in die buurt en in hierdie tyd het die erf nog altyd leeg gestaan.

Hy noem ook dat die grond heeltyd herverkoop is en dat verskeie mense dit oor die jare besit het, maar dat daar geen eienaarskap van die skoonmaak van die erf geneem is nie.

“Dan koop die een dit en dan daai een en so het dit aangegaan. En elke keer dan is dit ’n bakleiery oor wie die erf moet skoonmaak, want niemand wil dit doen nie. Dan kom die munisipaliteit en maak ’n bietjie skoon.”

Die Maandag omstreeks 21:00 het ’n vragmotor panele by die erf afgelaai. Bester vertel hy was nie buitekant toe dit gebeur het nie, maar die bure, wat weerskante van die erf woon, was wel teenwoordig.

“Hulle het met die man, wat die strukture daar afgelaai het, begin gesels en vir hom gesê hy kan nie ’n wendyhuis opsit nie. Die man het die bure ingelig dat hy ’n wendyhuis sal opsit en niemand sal hom keer nie. Toe sê hulle maar daar is reëls en regulasies. Elizabeth Solomons, ons raadslid, het ook al vantevore met hom gepraat. Ek het haar as voorsitter van die buurtwag genader, maar ek self het nog nie met die man gepraat of hom gesien nie.”

Volgens Bester het hy later die aand uitgekom nadat die vragmotor die materiaal vir die opslaanhuis afgelaai het.

“Dit was ’n klomp los planke en palette. Ons het daar gestaan en gesels en ek het vir die mense gesê hulle hoef nie bekommerd te wees nie, want hy kan nie die huis opsit nie.

“Ek het die volgende oggend met ons raad gepraat – eers met Elizabeth en later die behuisingskantoor asook wetstoepassing. Almal het bevestig dat hy nie die huis daar mag opsit nie, behalwe as hy dit vir ’n stoorplek gebruik en dan kan hy dit tydelik opsit, totdat hy sy huis klaar gebou het.”

Bester het die gerugte dat die inwoners van die materiaal ontslae geraak het as vals bevestig. Volgens hom is die boumateriaal van die opslaanhuis Dinsdagaand gesteel.

“Dinsdagaand het iemand daar aangekom en daai goed gesteel. Hulle het dit op ’n trollie gelaai, want die een stuk het op die sypaadjie daar by die woonstelle by die Shell-vulstasie gelê toe ek daar gery het. So, iemand het daai planke gesteel en weggedra en nou is daar ’n storie dat dit die bure is wat daarvan ontslae geraak het. Dit is nie so nie. Ons was glad nie betrokke by die wegry van die goed nie. Dit is nie eens sy erf nie. Dit was sy pa se grond en sy pa het dit aan sy ma bemaak en nou wil hy die baas daar kom speel.”

Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het by navrae gesê: “Dit is ’n private aangeleentheid; die eienaar van die perseel het toestemming vir die opslaan van die gebou verleen. Die beweerde betrokkenheid van ’n raadslid sal onder die speaker se aandag gebring word.”. The residents of Panorama Street in Denneburg were unhappy last Monday when someone wanted to put up a wendyhouse on an open plot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article