Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum moes tot dusver vanjaar na meer as 75 brande omsien. Dinsdagmiddag was die vallei weer in rep en roer toe digte rook oor die gebied gehang het, en Sondag het natuurliefhebbers na hul asem gesnak toe die mooi Franschhoekpas gebrand het.

Gelukkig het grond- en lug-brandweerspanne in albei gevalle vinnig tot die redding gekom en die brande geblus.

Bykans 1 800 veld-/plantegroeibrande is sedert 1 Desember deur brandweerdienste in die provinsie bygewoon. Die provinsie moes in 45 gevalle lugdienste vir brandbestryding teen ’n geweldige koste vir die belastingbetaler inspan.

Die eindbedrag van hierdie brandseisoen se finansiële skade sal eers aan die einde van die seisoen bereken kan word, maar tans staan hierdie bedrag ver oor R12 miljoen.

’n Kwelpunt is dat te veel brande deesdae in die somermaande opvlam en dit word grootliks aan menslike nalatigheid asook blatante brandstigting toegeskryf.

Deur die jare is mense op heter daad betrap waar hulle brande gestig het, maar dit blyk nie geregtigheid het hier geseëvier nie aangesien sulke sake soos as in die wind verdwyn.

Niks gaan dus verander indien die gereg nie streng optree nie, want hulle steel van die publiek, krenk Moeder Natuur en al te dikwels het hierdie brande ook tot lewensverlies gelei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article