Dit is nou amptelik – die Drakenstein-munisipaliteit gaan self die leisels van toerisme in die vallei oorneem.
Dit volg nadat hy nie weer ’n tender vir die bestuur van toerisme in die Drakenstein-vallei uitgereik het nie. Hiermee het die munisipaliteit die hele DLTA-span (Drakenstein- plaaslike toerimsevereninging) die trekpas gegee.
Jacqui Samson van die munisipaliteit het dit vandeesweek bevestig en gesê die DM gaan nou ’n nuwe toerisme-sentrum in Meulstraat by die Ou Meul-teater inrig. Sy het gesê die munisipaliteit gaan nou ’n heel nuwe benadering tot toerisme aanpak, en dit sal meer digitaal gefokus wees en herprioritiseer word.
“Die aanvanklike reaksie van verskeie belanghebbendes in die bedryf was positief, en ons is bly om te sê hulle het hulle daartoe verbind om deel te wees van hierdie nuwe toerisme-oplossing, wat die plaaslike toerismebedryf na groter hoogtes sal neem.
“Ons kan bevestig dat ’n tweejaar-huurooreenkoms met die bestaande huurder by die Ou Meul-teater in Millstraat, Paarl, opgestel is. Die munisipaliteit sal die kulturele toerisme-inisiatiewe wat tans by die Ou Meul-teater aan die gang is, verder ondersteun.”
Verder het Samson gesê die munisipaliteit werk aan ’n interne strategiese beplanningsproses, wat deel vorm van die algehele vyfjaarbeplanningsiklus, en sal meer besonderhede van die planne deel sodra die raad die konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) goedgekeur het.
“Ons doen ’n beroep op alle rolspelers in die bedryf om aan die GOP- konsultatiewe prosesse, wat in April sal plaasvind, deel te neem.
“Die munisipaliteit sal voortgaan om die toerismefunksie te verskaf aangesien dit ’n bevoegdheid van die plaaslike regering bly.”
Intussen kan Cheryl Phillips, senior bestuurder van ekonomiese groei en toerisme by die munisipaliteit, by 021 807 4737 of 084 333 3347 gekontak word.




