Oom Freddie van Rensburg is ’n ware mense-mens wat enige soettand met ope arms by die Bakoondjie in Wellington verwelkom – en jou lok na rakke en rakke wat onder sy vars melkterte kreun.Foto: Heleen Rossouw


Almal ken dit alte goed – daardie lomerigheid wat in die namiddag by ’n kantoor instap, sy baadjie uittrek en dit nonchalant om jou skouers gooi terwyl hy met ’n vet grinnik in jou oor fluister: “Nee wat, jy kan maar handdoek ingooi, jou fut vir die dag is uit.”

En dikwels is die teenvoeter vir dié toestand bloot ’n stukkie melktert.

Dít is die ontdekking waarmee die Weg-redaksie 10 jaar gelede een namiddag in Februarie vorendag gekom het – nie sweets en chocolates nie, maar ’n snytjie melktert!

Dit voel asof jou ouma skielik langs jou kom sit, oor jou rug vryf en sê: “Ouma weet dis swaar, maar jy vaar goed en ek is trots op jou, my kind.”

Dalk was dit die kaneel; dalk die vlokkies skilferkors wat oor die lessenaar geval het . . . wie sal ooit weet?

Al wat saak maak, is dat die Weg-redaksie op 27 Februarie 2012 die perfekte namiddaghappie gevind het.

En so is Melktertdag nou ’n gewilde dag om te vier in ’n land wat grootliks mal is oor melktert.

En almal het hul eie geheime resep en voorkeure.

In Wellington bak tannie Betsie van Rensburg al byna 40 jaar lank melktert vir die geliefde tuisnywerheid Bakoondjie.

En toe sy ’n ruk gelede weens gesondheidsredes nie meer hiermee kon voortgaan nie, het haar man, oom Freddie, ’n afgetrede rekenmeester, sy sakrekenaar vir ’n voorskoot verruil om sy vrou se nalatenskap voort te sit.

Nou staan oom Freddie vyf dae per week byna klokslag om 03:00 op, juis om die oggendkoue vir melktertbak te vang.

Dit, sê oom Freddie, is juis die geheim om goeie melktert te bak – jou bestanddele moet yskoud bly; die melk en water (sommer met ys ook by) en die botter moet deurgaans koud wees.

“Ook, jy moenie goedkoop bestanddele gebruik nie – jou melktert is net so goed soos die gehalte van byvoorbeeld die botter.”

Oom Freddie koop self al die voorraad en maak self die melktertkors.

Hierdie resep kom van oom Freddie se ma, destyds van Albertinia.

Dit is as ’t ware ’n baie ou familieresep en die Van Rensburgs volg hierdie resep al baie jare lank stap-vir-stap sonder om daarvan af te wyk.

Hy bak daaglik sowat 18 melkterte, maar sê hy kry dikwels groot bestellings wat hom waarlik aan die hardloop het in die kombuis.

Hy vertel ook met trots talle bekendes het al aan sy en Betsie se melkterte gesmul, soos die destydse Wellingtonse politikus Tienie Malan, die legendariese rugbyheld Dawie de Villiers en die ontslape staatshoof FW de Klerk.

“Maar wag, kom haal vir jou ’n melktert by my en proe self hoe heerlik dit is,” sê oom Freddie.

So, gaan gryp nou dadelik vir jou ’n melktert hierdie naweek en smul saam met medelandsburgers aan hierdie tradisionele Suid-Afrikaanse kultuursoort en verenig só rondom die besonderse lekkerny wat almal se hartsnare laat roer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article