Die Hillcrest-spelers Shanton Fransman (met die swart skrumpet) en Sedick Benjamin stuit ’n Newton-teenstander in hul spannende wedstryd Saterdag. Foto: Cadin Lewis

Credit: SYSTEM

Hillies het die afgelope naweek ’n drieëfees met groot opwinding en vermaak vir meer as 1 500 passievolle rugby-ondersteuners opgelewer.

Die manne in blou en geel het sewe drieë gedruk vir ’n oorwinning van 49-12 in ’n vriendskaplike derbywedstryd Saterdag 19 Februarie teen die Bombela’s op Newtonpark in Wellington.

Newton was vir 20 minute in die eerste helfte mededingend, maar ’n vlymskerp breukslag deur die losskakel Shandrey Pietersen het tot Hillcrest se eerste punte gelei.

Die span van Danie Roman, afrigter van Hillcrest, was fikser en meer afgerond as Newton – selfs toe Hillies se kaptein, Lesley Gertse, vir tien minute koelkas toe gestuur is, het die blou-en-geel masjien harder gewerk deur ’n verdoelde drie aan te teken danksy Dane Kruger.

’n Fisieke vertoning deur Newton, met sy skrums en rolmaalbewegings, was vir seker ’n ligpunt vir sy afrigter, Reggie Manuel.

Keaton Booysen se vaart het tot Newton se eerste drie in die eerste helfte gelei en die rustydtelling was 21-5 in Hillies se guns.

Ná rustyd het Hillcrest op alle silinders gevuur deur ’n verdere vier verdoelde drieë aan te teken, hul voor- en agterspelers het goed as ’n eenheid gekombineer.

Newton het geen antwoord vir Hillcrest se aanvallende spel gehad nie. Eers laat in die die tweede helfte het Keanon Booysen oorgegaan vir ’n verdoelde drie, maar die skrif was reeds aan die muur. Ná die wedstryd was Roman vol lof vir sy span se vertoning. “Ons wil die bal ’n bietjie rondgooi, maar het ook ’n wedstrydplan wat ons graag wil implimenteer.”

Puntemakers:

Hillcrest – 49. Drieë: Shandrey Pietersen, Dane Kruger, Curtley Swanepoel, Jade Adams Renaldo Young, Sedick Benjamin (2).

Doelskoppe: Devrolin Abrahams (3), Young {4).

Newton – 12. Drieë: Keaton Booysen, Keanon Booysen.

Doelskoppe: Curtley Davids (1).

In ander uitslae:

Roses United 24-33 Durbell

Evergreens Paarl 12-19 Franschoek

Villigars Newton 55-5 Windmeul United

Young Blues 10-3 Bonnievale

Adelaars 17-5 Soetendal

Wellington 21-17 Evergreens Wellington

Young Peoples 25-12 Paternoster.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article