’n Gesin van die Paarl soek antwoorde nadat hul 18-jarige seun skielik siek geword en binne dae gesterf het.
Justin Jansen se ouers sê personeel van die Paarl-hospitaal kon nog nie ’n diagnose van sy siekte en die rede vir sy dood verskaf nie.
Leanie Maart, wat die familie se woordvoerder is, sê Justin is op 8 Februarie met ’n hoë koors en omgekrapte maag in die hospitaal opgeneem. “Die ouers het Donderdagaand (10 Februarie) om 22:00 die skokkende nuus ontvang dat hul seun oorlede is. Die hospitaal kon nie ’n spesifieke diagnose verskaf nie.”
Op 13 Februarie het sy jonger broer, die 14-jarige Zaynor, dieselfde simptome ontwikkel – hoë koors en maagkrampe. Uit vrees dat die simptome ook tot hul jonger seun se dood kan lei, het sy pa, Hendrik, en ma, Louise, met hom na die Paarl-hospitaal gejaag.
“Met hul aankoms by die hospitaal het die veiligheidswagte hulle toegang tot die hospitaal geweier. Die rede was omdat die hospitaal ‘te vol’ was. Meneer en mevrou Jansen is steeds getraumatiseer deur die afsterwe van hul oudste seun en paniekerig weens die gedagte dat hulle hul jongste, en nou hul enigste kind, ook kan verloor. Hulle het familielede gebel om te help om die kind vir dringende mediese aandag in die hospitaal te kry, maar teen 08:30 [op 14 Februarie] het geen dokter nog hul kind ondersoek nie,” vertel Maart.
Maart het hul ongelukkigheid namens die familie per e-pos aan die hospitaal uitgespreek. Die familie wil weet watter “mediese ervaring of outoriteit” die veiligheidswag het om mense toegang te weier om mediese hulp te kry, en vra ook wie sal verantwoordelik gehou word indien iets met hierdie 14-jarige gebeur het.
Leensie Lötter, die Paarl-hospitaal se woordvoerder, het by navraag gesê die rol van veiligheidspersoneel by enige openbare gesondheidsfasiliteit is om die beskerming van personeel en pasiënte by die fasiliteit te ondersteun asook om te help om te verseker dat alle pasiënte en hul begeleiers die huidige Covid-19-protokol volg.
“By Paarl-hospitaal se noodsentrum is dit die rol van die triage-verpleegster wie se stasie vir algemene pasiënte voor die veiligheidsbeheerterrein geleë is, en die geringe triage reg langs dit, om die erns van die pasiënte wat na die noodsentrum wil gaan, se toestand te bepaal. Veiligheidspersoneel het nie magtiging om mediese hulp te verskaf of mediese besluite te neem nie.”
Lötter sê die 14-jarige se triage-kleur is deur die mediese personeel by die hospitaal as geel geklassifiseer.
Hy is ook geprioritiseer omdat hy soortgelyke simptome as sy oorlede broer getoon het.
“Die pasiënt se toestand was bestendig en die dokter het aan die pasiënt verduidelik dat hy die verpleegster in triage moet waarsku as hy erger begin voel. Die pasiënt is saam met sy ma na die wagkamer geneem en orale rehidrasie-oplossing is volgens normale protokol toegedien.”
Die familie is ook ongelukkig nadat ’n verpleegster na bewering aan die 14-jarige gesê het dat hy eers “flou moet val” voordat hy gehelp kan word.
Dié bewerings sal deur die verpleegbestuurder ondersoek word.
“Hangende die ondersoek sal verdere stappe gedoen word om te verseker dat personeel die vereiste vlak van professionaliteit handhaaf wanneer pasiënte behandel word,” sê Lötter.
Francois van der Watt, die uitvoerende hoof van die Paarl-hospitaal, het intussen laat weet dat bloedtoetse op albei broers gedoen is en het bevestig dat “niks ongehoords in die bloedkulture opgemerk is nie”.. A Paarl family is looking for answers after their 18-year-old son suddenly became ill and died within days.





