Dis nuut en vars en dit is opwindend hoe die Paarl se Top Wine Roots Laailou-musiekfees, wat van 18 tot 20 Maart, in samewerking met Bok Radio, oornag ’n huishoudelike naam en volksbesit geword het.
Vir feesstigters, Corné Pretorius en Wynand de Villiers, was hoe die naam op die oor klink, belangrik, maar meer belangrik was dat die naam die regte toon daar stel, en al die elemente van die fees omarm: Die onderskeidende kristalhelder element is natuurlik dat jy die fees op jou laailou kan aanskou.
Jou laailou is daardie opblaas-dryflêding wat ons gewoonlik net in Desembers uithaal. Hierdie Maart gaan feesgangers hul laailous na die Bergrivier-oord in die Paarl aandra vir een van die beste line-ups van kunstenaars wat die Wes-Kaap in jare gesien het. Karlien van Jaarsveld, Spoegwolf, Early B, Jan Bloukaas, Janie Bay, Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Corné Pretorius en nog vele meer sal feesgangers diep die langnaweek in laat feesvier en dans.
“Ons glo die line-up is uitsonderlik, maar vir ons is die setting van die fees en die vibe wat ons wil skep die groot onderskeidings elemente van die fees. Die Bergrivier-oord is absoluut geskik vir die aanbieding van ’n baie unieke fees met twee sitplek-keuses, en byna die hele oord is onder ’n wonderlike skadubedekking van ou bome.” sê De Villiers.
“Dis ’n fees met ’n verskil. Jy kan die konserte kyk terwyl jy in die Bergrivier op jou laailou ronddryf of sommer van die gemak van jou kampstoel onder die bome in die feesterrein.
“Paarl het nie ’n hoeksteenfees soos baie ander dorpe in Suid-Afrika het nie, en daar is baie rolspelers in die Paarl, sowel as Drakenstein-munisipaliteit, wat die fees nou uitgesonder het as die fees waarmee die Paarl in die toekoms vereenselwig wil word. Ons is bevoorreg om soveel ondersteuning vir die eerste uitgawe van die fees te hê, nie net van die stadsvaders af nie, maar ook van korporatiewe borge soos TopWineRoots en Bok Radio.” sê De Villiers.
Die verhoog by die fees word met ’n 270 grade gehoor-radius opgestel sodat dit toeskouers in die rivier op hul laailous sowel as toeskouers op hul kampstoele in die kampeer-feesterrein bedien. Die Bergrivieroord het pragtige staanplek vir tente asook luukse staanplek vir karavane. Bring jou laailou, bring jou kampstoel!
Kaartjies is te koop by itickets.co.za en beperk tot 2 000 per dag.
Vir al die besonderhede en die feesprogram besoek www.laailoufees.co.za
Vir kampplekbesprekings by die Bergrivier-oord besoek www.bergriverresort.co.za





