Met Februarie hoeka reeds verby, ly ek steeds aan die ongekende sielsmoegheid, waarmee ek verlede jaar se einde op my sien afstorm het, terwyl ek geworstel het om die jaar se werklas af te handel. Alles het verkeerd gelyk en gevoel.
Meer werk en moeilikhede is daagliks voor my deur opgestapel. Die dae het te min ure gehad. Die ure was korter. Die nagte heeltemal te kort.
Ek moes dikwels kantoorwerk doen, tot die Bybelse tweede nagwaak en vir die eerste keer was die tradisionele Kersfees-voorbereidings nie klaar nie. Ergste was, ek het nie omgegee nie en het heeltyd die gevoel gehad dat iets kortkom in die spesiale seisoen van die jaar.
Moes die aanbreek van die feestyd, waarna almal altyd uitsien, nie met rustigheid en vrolikheid gebeur nie? Die gejaag en geskarrel van mense met gefronste voorkoppe en moeë oë bokant verlepte maskers, het my ontstel. Ek het minder speelgoed en lekker kos gesien in die trollies wat haastig tussen die rakke gestoot is.
So deur my moeg, vat my gedagtes toe ’n heel verkeerde pad en ek wonder of my waarneming reg is. Verbeel ek my nie die onrustige gejaagdheid nie? Dalk is dit nie soos dit vir my lyk nie? Is dit nie dalk die oudword-besigheid wat my nou finaal omsingel het en die kring stywer en stywer trek en my stadig en sommer agterstevoor te werk laat gaan nie? Dit is dan die rede hoekom niks klaarkom nie en dae verbyvlieg en ek so moedeloos moeg is? Is dit hoekom ek my kar gestamp het teen die muur van die motorhuis waar ek 36 jaar lank verskillende soorte voertuie, ongeluksvry, ge-in en -uit het? ’n Angs soos ek nie eens ervaar het met my groot siekwees en met my kinders se covidstryd nie, het my vasgegryp.
Die kinders gaan die goed agterkom en besluit ek het nou geglip en is ’n gevaar vir myself en ander en dan sal hulle met my maak soos kinders dikwels doen met ouers: Vat hul voorregte af. My kinders is meesters met beplan en organiseer en familie-dinge reël. Hulle sal onder mekaar bel en ’n fyn en onfeilbare strategie uitwerk, want onthou, “sy is nie maklik nie. Het mos daai koppige Kamfer-streep geërf en dan is daar nog Van der Merwe- en O’Kennedy-bloed ook by. Oumagrootjie van der Merwe is nie verniet die Ou Groot Tiger gedoop deur een van haar skoonseuns nie”.
Hulle sal op my toeslaan en my kar wil afvat en die afstandbeheer vir die veiligheidshekke en begin reëlings tref vir opname in Silwerkruin. In die Desember-gejaag gaan my kop in overdrive. Ek begin argumente in plek kry en voorsien ’n rusie, in die ses-en-sewentigjarige huis met sy agtien-duim-dik mure, wat tot in die straat gehoor sal word. Ek sal my teësit soos nooit tevore nie.
Soos dikwels in my donkerste uur gebeur, kom daar toe onverwags lig. Verskeie jonger vriende en kennisse kom loer in vir ’n laaste gesels en totsiens van die jaar. Van hulle is bevoorregtes wie se stokperdjie ook hul professie is. Almal kla van dieselfde moeg en uitgeputte gevoel soos nog nooit voorheen ervaar dié tyd van die jaar nie. Elke dag is net meer werk en die spanning loop oral hoog. Almal is in dieselfde drukgang van te veel werk, te min tyd en geen energie nie. Weet ek toe, oud het my nie skielik ingehaal nie. Ek is nog reg gekonnekteer.
Die negatiewe jaareinde-atmosfeer was beslis die gevolg van die verpakking waarin die covid-ding gekom het. Die skielike weggryp van vryheid en natuurlike samesyn met ander. Die onbekendheid en geen vooraf handboek-lesings vir hantering van die onvoorsiene en negatiewe gevolge nie. Bangmaakstories, aanhoudende aanlyn werkery en ge-sa!-makery deur moedswilliges en oningeligtes asook die ellende en hartseer en vereensaming van baie. Net te veel verliese op alle vlakke van ons menswees en die kroon daarop – die afstootlike kriminaliteite wat daaruit gespruit het deur diegene in leiersposisies wat verantwoordelik was om sekere goed in plek te kry vir die doel waarvoor regeringsgeld verskaf is.
Onmiddellik ná Nuwejaarsdag het my werkskedule asook baie ander s’n, op dieselfde noot weggespring as waarop dit die jaar geëindig het. Hier en daar begin goed normaliseer ná die twee dowwe jare. Feit is al die afwagting en viering van Nuwejaar is net nog iets wat geen verandering bring nie en vir sommige is dit nie eens ’n vakansiedag nie.
Begin 2 Januarie, gaan die lewe van Oujaar doodgewoon aan. ’n Nuwe jaar is nooit nuut nie, is net ’n? veranderde kalender. Dis ontstellend vir my, want ná baie Nuwejare het niks nuut geword aan Mzansi nie. Pikdonker is dit steeds, maar ek weet vir seker, die lig is nie vir altyd weg nie. Al begin dit net met ’n skrefie, sal dit weer helder skyn.




