Alshaun Bock se rugby- repertoire is skatryk met ’n agtergrond as ’n Suid-Afrikaanse sewes- en o.21-rugbyspeler toe hy al vroeg in sy lewe op groen grasperke geploeg het.
Bock is tans ’n speler-en verdedigingsafrigter by die Boland-rugbyunie (BRU) ter ondersteuning van ’n hoofafrigter.
Sy hernieude passie vir die sport het ’n span van 18 seuns bymekaar gebring met die fokus op spelers wat uit minderbevoorregte agtergronde in Wellington kom.
Van daar het dit aan die einde van 2021 lewe aan die sewesrugbyspan, die Wellington Scorpians, geskenk.
“Ons het begin met absoluut geen geld nie en uitgereik vir ’n R500-borg. Met dié borg het ons begin oefen en aan sewestoernooie deelgeneem.
“Ons het sover ses toernooie gespeel en oorwinnings in vyf daarvan behaal.”
Hy sê hulle het redelike prysgeld in die wedstryde gewen, wat hulle in die gemeenskap aanwend.
“Daarmee koop ons skoolbehoeftes en gee dit aan skole soos Newton Primêr. Ons behoort binnekort in staat te wees om skoolskoene te koop wat ons by skole kan uitdeel.”
Die manne het hulle selfs ontferm oor ’n matriekseun ter voorbereiding vir sy matriekafskeid.
“Dit is ’n seun wat van niks af kom nie en ons het hom alles gebied, soos sy pak, skoene en selfs ’n deftige motor om hom op sy spesiale aand by die rooi tapyt af te laai.
“Ons ondersteun ook die Emmanuel Shepherd-Sondagskool om vir hulle liefdadigheid of insette te bied. Werklik, enige geld wat ons insamel, gee ons net so terug aan die gemeenskap.”
Hy sê die Scorpions het ’n spangees wat doelgerig is op ’n oopdeur-beleid waar enigiemand welkom is.
“Vir my gaan dit oor geleenthede om aan enigiemand te bied. Aangesien ek al my jare ’n professionele rugbyspeler is, het die tyd aangebreek om terug te gee aan my gemeenskap.”
Dié 39-jarige is ’n bekende gesig by die BRU sedert sy matriekjaar toe hy by die Boland Kavaliers ingeskakel het. Van daar het hy byna landwyd voltyds provinsiale rugby gespeel vir spanne soos die Griquas in Kimberley, die Hamiltons rugby-klub in die Kaap en die SWD Eagles in George. Hy het ook die Southern Kings in Super Rugby-reekse verteenwoordig.
Bock wil graag ’n jongman uit Wellington die mentorskap bied wat hom die range van die rugby-leer sal laat klim om ook in Super Rugby- of Curry-beker-wedstryde uit te draf.
“My ouens handhaaf baie respek teenoor mekaar en so ook vir my . . . hulle lewe werklik vir die sport en gebruik die geleentheid.
“Hulle is baie nederig, want onthou – hulle kom sonder dissipline hier aan. En eendag kan hulle met ’n sak vol dissipline uitstap.
“Ek ontvang hulle as seuns, en sien hoe hulle hul toekoms as volwasse mans tegemoet loop.”
Bock het besef dat die seuns ook selfs by hom vertoef vir die vaderfiguur wat hy opnuut in hul lewe verteenwoordig.
“Ek dink nou aan een van ons seuns – hy is maar 18 jaar oud – wat op ’n heel verkeerde pad in sy lewe was wat dwelmmisbruik betref.
“Ons het hom geborgenheid geskenk en hom van sy dwelmverslawing help genees, en vandag is hy een van ons beste spelers.”
Sy span floreer reeds, en nege van sy spelers is in die provinsiale BRU-span opgeneem. Nog ’n speler is in die Suid-Westelike Distrikte rugby-unie opgeneem.
“Dit dui op die harde werk wat hulle gedoen het, en ek dink die helfte van hulle het in hul vermoë om dit te bereik, getwyfel. Ek het al sommer baie gehuil van trots.
“Dit is moeilik om die omstandighede van die outjies te verstaan en te besef hoe moeilik dit werklik is. Daardie wrede werklikheid ontneem hulle baie potensiaal, en ’n mens moet hul deursettingsvermoë ontwikkel om hul potensiaal raak te sien.”
’n Natuurlike evolusie heers onder dié spelers, wat ’n hernieude lus vir hul lewe ontwikkel en mettertyd leiers van die groep word.
Bock vertel van die deurlopende siklus wat gevestig is, waardeur die spelers mekaar opbou, aandag skenk en doelwitte inspireer onder nuwelinge wat ’n hunkering na leierskap ontwikkel.
“Wanneer ek dit sien uitspeel, is slegs ’n ‘dankie’ genoeg. Ek is hier sodat hulle elke druppel ervaring uit my kan suig totdat ek leeggetap is,” sê Bock.





