Die Kiewit-tweeling met hul ouers. Van links is Kayden Kiewit, Gilly Kiewit, Marilyn Kiewit en Cohen Kiewit.

Credit: SYSTEM

Die Kiewit-tweeling, Cohen en Kayden, van Paarl maak groot opslae in die rugbywêreld.

Nadat hulle in 2016 aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer het, het albei beurse ontvang en is aanvaar om te studeer en rugby te speel vir twee verskillende universiteite in die land.

Cohen draf uit as ’n vaskopstut vir die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), terwyl Kayden ’n stut is van Universiteit van Johannesburg (UJ) se span. Die 23-jarige broers het onlangs vir die eerste keer teen mekaar gespeel by die FNB Varsity Cup in SUT se stadion.

Volgens Kayden het hy die wedstryd soos enige ander gewone wedstryd benader.“Ek het nie regtig te veel daaraan gedink nie, maar dit was natuurlik ’n spesiale ervaring om teen hom te speel. Ons het saam geskrum, so dit was nog meer spesiaal vir my.”

Vir Cohen was dit ’n groot oomblik om ná twee jaar weer op die veld te wees ná ’n nekbesering, geskeurde ligamente in sy knieë en perikarditis (infeksie van die hart). Hy sê: “Om teen my broer te speel, was baie lekker. Dit was die eerste keer dat ons teen mekaar gespeel het. Ek dink dit was ’n baie trotse oomblik, veral vir ons gesin.”

Rugby is in hul bloed en die twee speel al sedert gr.1 toe hulle in Laerskool Courtrai was. Volgens Cohen het hul pa ook in sy tyd rugby gespeel. In hul grootwordjare het die tweeling elke Saterdag rugby gekyk, en dit is hoe hulle hul liefde vir die sport gekweek het.

Buiten sport is die twee ook baie gefokus op hul studies. Kayden is besig met sy BCom-honneursgraad in ekonomie en Cohen doen sy gevorderde diploma in logistiek.

“Toe ek verlede jaar hart-infeksie gekry het, het dit ’n skakelaar in my gedagtes laat draai dat akademie regtig belangrik is. Rugby gaan nie altyd daar wees nie. Ek wil net so lank as moontlik studeer. Volgende jaar wil ek my honneurs doen en dan daarna net ander dinge ook studeer,” vertel Cohen.

Die broers stem saam dat hul ouers – pa Gilly en ma Marilyn – hul grootste motivering is. Kayden vertel van die opofferings wat hul ouers gemaak het om hulle aan te por om na groter hoogtes te strewe en goed te vaar in hul studies.

Die beurs wat hy ontvang het, herinner hom ook om altyd sy beste te gee. Cohen sê in alles wat hy doen, wil hy net sy ouers trots maak.

Die Kiewit-tweeling maak hulle gereed om verdere hoogtes met hul rugbyspel te bereik, hulself verder akademies te bemagtig, en om ook die wêreld vol te reis terwyl hulle doen waarvoor hulle baie lief is – rugby! . The Kiewit twins, Cohen and Kayden, from Paarl are making headlines in the rugby world.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article