Die instelling van prestasiebestuur- en aanspreeklikheid-gebaseerde vergoeding wink moontlik vir raadslede, burgemeesters en Speakers nadat dié voorstel deur die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) op verlede week se kongres ter tafel gelê is.

Conrad Poole, burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het gesê hoewel hy tevrede is met die status quo oor vergoeding, prestasiebestuur en aanspreeklikheid, is die voorstelle iets wat Salga met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) sal moet bespreek.

Die burgemeesters van die Kaapstad- en Stellenbosch-munisipaliteite het die voorstelle verwelkom.

Die voorstel wat in die SA Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) se vyfjaar- strategiese plan vir die tydperk 2022-’27 vervat is, stel ’n vergoedingsregime voor wat op prestasie en aanspreeklikheid gegrond is.

Gesie van Deventer, Stellenbosch se burgemeester, het gesê omdat sy ’n burgemeester is wat na uitnemende dienslewering en goeie bestuur streef, verwelkom sy enige voorstel wat burgemeesters oor die land heen meer verantwoordbaar en prestasie-gebaseerd sal maak.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het op sy beurt gesê hy is ten gunste van die voorstel, juis omdat die prestasie-verwante betaling standaardpraktyk in die private sektor is.

Volgens Salga sal die nuwe vergoeding op prestasie gegrond wees en afhanklik wees van die munisipaliteit se toekenning van die Nasionale Tesourier. Responsiewe vergoeding vir personeel by die land se 257 munisipaliteite word ook oorweeg. Bron News24. Paarl Post het verlede jaar berig die salarisse van senior amptenare en raadslede per jaar was as volg: Burgemeester – R1 046 997 per jaar (toelaes ingesluit); onderburgemeester en Speaker – R837 597 elk.

Lede van die uitvoerende komitee kry ’n alles insluitende salaris van R785 427 per jaar.

Die stadsbestuurder kry R1 987 402 per jaar terwyl uitvoerende direkteurs R1 596 747 per jaar kry en gewone raadslede R331 335 per jaar.

Senior bestuurders by die munisipaliteit het die afgelope twee boekjare geen salarisverhogings ontvang nie. Die bogenoemde salarisse sluit nie selfoon- en data-toelae in nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article