Die 2022-parsseisoen het stadig begin en koeler weerstoestande in die aanloop tot die piekseisoen het rypwording verlangsaam.
Goeie koue en bogemiddelde reënval in die winter het waterbronne goed aangevul en voldoende koue-eenhede opgebou. Koeler weer het ook daartoe gelei dat groeifases reg deur alle streke – van bot tot blom, deurslaan en rypwording – later as gewoonlik plaasgevind het.
Hoewel hitte in Desember en Januarie die rypwordingstempo versnel het, het wingerde steeds nie die agterstand ingehaal nie.
“Einde ten laaste het produsente in al tien die wyndruifverbouingstreke begin pars, met redelike verskille tussen die onderlinge streke in terme van op- en afwaartse skattings vanweë die geografiese diversiteit,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.
Volgens die derde skatting deur wingerdkundiges en produsentekelders, wat SAWIS (SA wynbedryfinligting en -stelsels) en Vinpro gesamentlik teen die middel van Februarie uitgereik het, sal die 2022-wyndruifoes steeds kleiner as in 2021 wees, in pas met die vorige skatting in Januarie.
Die afname word hoofsaaklik toegeskryf aan wingerduitkappings, swamdruk weens ongekende reënval en sonbrandskade weens hittepieke gedurende Januarie in sekere streke.
Vinpro se span wingerdkundiges vertel hoe die 2022-parstyd in hul onderskeie streke vorder:
Paarl, Wellington en Swartland
Die pars van wit wyndruiwe in die Paarl en Swartland is goed op dreef en die meeste kelders begin al Pinotage inneem, met ’n katspoegie van die ander rooi kultivars.
“Ondanks gevalle van sonbrandskade dui die eerste wyne wat tans in die kelders gis, op ’n baie mooi oesjaar,” sê Hanno van Schalkwyk.




