Olivia le Cordeur, die Wellington-museum se bestuurder, Shandre Morris, Genevieve Bailey en Whaylin Adams, by die FAK Sangbundel Volume II in die biblioteek, wat ter nagedagtenis aan Christine Siebrits deur die FAK aan dié biblioteek geskenk is.



Christine Siebrits van Wellington wie se stem op 2 Februarie vanjaar stil geword, is deur die FAK vereer.

Christine was ’n uitnemende voorbeeld van iemand wat dienend betrokke en sigbaar in haar gemeenskap was. Sy het die belangrikheid van kultuurhistoriese bewaring ten diepste verstaan en met ywer op hierdie akker gearbei. Haar hulpvaardige geaardheid, volgehoue toewyding en leergierigheid oor veral die geskiedenis en mense van Wellington, maar ook wyer as dit, het van haar ’n geliefde en gerespekteerde kundige en groot bron van kennis in die dorp gemaak.

Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-kultuurnetwerke in die Kaap, sê: “Die FAK onthou haar as lid van die FAK-Wellington-kultuurnetwerk, waarby sy entoesiasties betrokke was en waardevolle bydraes gelewer het oor die mense en geskiedenis van Wellington. Sy was ook die agterkleindogter van die taalpionier CP Hoogenhout en voorsitter van die Wellington-museum.”

Die FAK het die Wellington-museum op 1 Maart besoek. ’n Geraamde foto van Siebrits staan op ’n tafeltjie by die ingang by ’n kers en ’n vaas met blomme.

“Die personeel praat met groot agting van Christine. Christine het so drie keer per week kom inloer en almal het graag vir ’n geselsie nader gestaan.”

Volgens Smith het die personeel en Siebrits dan lekker saamgekuier met koffie en ’n melktert, wat Siebrits altyd saamgebring het.

Olivia le Cordeur, bestuurder van die Wellington-museum, onthou Christine as ’n omgeemens wat opreg in die personeel en hul kinders belanggestel het, wat sake waaraan sy geglo het, deurgevoer het en nie ontmoedig is deur terugslae nie, en ’n jong 81-jarige was wat deurlopend met tegnologie bygebly het. Le Cordeur vertel toe sy self by die museum begin werk het, was sy maar skrikkerig vir hierdie “kwaai” afgetrede skooljuffrou, maar sy het ’n nederige, opregte en hulpvaardige mens leer ken met wie sy vir 13 jaar lekker saamgewerk het.

“Ons eer die nagedagtenis van Christine Siebrits.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article