HearX Foundation se senior sifter, Neziswa Duka, toets ’n leerder van Orleansvale Primêr se gehoor op Wêreldgehoordag.Foto: Chantélle Hartebeest


Die Hear X-Foundation het verlede Donderdag ter viering van Wêreldgehoor­dag visie- en gehoorsiftingstoetse vir ’n groep leerders by Orleansvale Primêr gedoen.

Nicole Truscott, die organisasie se verhoudingsbestuurder, sê hul program “Eyes and Ears for Everyone” fokus op bewusmaking van gesonde oë en ore wat kinders sal help om beter te leer.

“Die Hear X Foundation is eintlik die geesteskind van die Universiteit van Pretoria waar twee professore besef het daar is ’n tekort aan gehoordienste in gemeenskappe in Suid-Afrika. Hulle het toe innoverende tegnologie gaan ontwikkel waar ’n mens op ’n slimfoon gehoorsiftingstoetse kan doen.

“Dit is nie ’n diagnostiese toets nie, maar dit is ’n toets wat moontlike gehoorprobleme kan bespeur en dit kan gebruik word deur nieprofessionele mense. So kan ons hierdie dienste na gemeenskappe toe bring op ’n gekalibreerde slimfoon met sy oorfone – dit is nie enige slimfoon nie.”

Deur hul vennootskap met Visionbox Foundation doen Truscott en haar kollegas ook visiesiftingstoetse. Sy ver­duidelik deur die twee verskillende siftingstoetse wat hulle doen, identifiseer hulle moontlike visie- of gehoorprobleme en maak hulle geen diagnoses nie.

“So, indien ’n kind ’n verwysingsresultaat het op sy siftingstoets, dan help ons daai ouer of die kind en ons verwys hulle na die dienste wat hulle sou nodig hê – of dit nou ’n oudioloog, ’n optometris, dokter of kliniek is. Ons hart is regtig om daai kind deur te sien tot by die hulp wat hy nodig het, want ons missie is ‘gesonde oë en ore vir gesonde leer’. ”

Die tema van die dag, in samewerking met die jeugorganisasie Khula Development Group, was “To hear for life, listen with care”. Hierdeur het hulle kinders opgevoed oor gehoorverlies en hoe om na hul gehoor om te sien. “Ons wil die kinders vandag leer hoe om veilig te luister – musiek af te draai, saggies te luister en nie te veel tyd op oorfone deur te bring nie, as daar harde geraas is, stap weg of druk jou ore toe. As jy oor pyn, sê vir jou juffrou of jou versorger.”

Volgens Truscott het hulle ook gehoorsiftingstoetse gedoen vir die onderwysers, terwyl die groep leerders die visiesiftingstoets ook ondergaan het. Hear X Foundation werk al sedert 2019 in die Paarl. Hulle het aan die begin van die jaar in Mbekweni gewerk en gaan nou verder uitbrei na skole en kleuterskole in Paarl-Oos en Wellington. Hul fokus is spesifiek op die jonger kindertjies in graad R, graad 1 en kleuterskool.

“Ons werk saam met die departement van gesondheid en verwys al ons kinders na hul oudioloog en oor-, neus- en keel­spesialis. Tot op hede het ons al meer as 3 000 kinders in die Paarl gehelp.”. The Hear X Foundation conducted vision and hearing screening tests for a group of learners at Orleansvale Primary last Thursday in celebration of World Hearing Day.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article