Gaan die De Poort- historiese dorpie nog uit die as kan herrys?

Dit is die jare lange vraag met die mislukte Suider-Paarl- historiese ontwikkeling van De Poort nadat hierdie ontwikkeling 15 jaar ná sy ontstaan nog net nie van die grond af kon kom nie.

De Poort is in 2007 gebou met bystand van ’n R2,3 miljoen-toekenning van die nasionale Lotto-trust asook finansiële ondersteuning van die Drakenstein-munisipaliteit om ’n wa- en karretjiemuseum, ’n koffiewinkel/restaurant en ’n inligtings- / opvoedkundige sentrum op die munisipale terrein tussen Turk- en Pinestraat op te rig.

Dit sou fase een van ’n ontwikkeling wees wat op erfenistoerisme gemik was, en die doel was om dit te bou en in ’n volskaalse historiese dorpie te ontwikkel.

Maar sedert die bouwerk voltooi is, staan die ??ontwikkeling by De Poort feitlik stil.

Tans is die enigste noemenswaardige gebruik van die terrein die jukskeibane op ’n verafgeleë deel van die terrein.

Die ontwikkeling is ook deur die jare geknou deur binnegevegte tussen De Poort-direkteure en die munisipaliteit, met die verhouding tussen die twee wat in ’n stadium versuur het tot so ’n mate dat die munisipaliteit, op wie se grond De Poort staan, die hekke na De Poort gesluit het.

Maar, daar is wel hoop. Tans is die Drakenstein-munisipaliteit vasberade om die suksesvolle herlewing/ontwikkeling van De Poort te bewerkstellig as deel van sy volgende 15-jaar-ontwikkelingsplan, soos uiteengesit in die Visie 2032-strategie, die munisipaliteit se Strategiese Ontwikkelingsraamwerk en die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (Gop).

Dus is ’n konsultasieproses tans onderweg met alle belanghebbendes met die Stedelike Ontwerpraamwerk vir De Poort en sy onmiddellike omgewing, om alle moontlikhede te ondersoek vir die ontwikkeling van die gebied, met die klem op toerisme en ontwikkeling, gemeenskapbetrokkenheid asook die finansiële haalbaarheid daarvan.

Dit sluit in om te verseker dat die gemeenskapsbate tot ver in die toekoms selfonderhoudend kan word.

Die finale konsepverslag is op die Drakenstein-munisipaliteit se webwerf vir openbare deelname beskikbaar.

Die Paarl-Hamlet- stedelike ontwerpraamwerk sal spesifiek fokus op sake wat verband hou met die erfenis, die natuurlike en geboude omgewing, die landskap, die stedelike ontwerp en die stedelike eiendomsekonomie.

Die munisipaliteit sê die De Poort-terrein is ’n integrale deel van die Paarl-Hamlet-gebied en is in die middel van die gebied geleë, wat beteken die terrein bied verskeie geleenthede vir stedelike vernuwing en ontwikkeling.

Die De Poort-terrein sal dus bykomende aandag geniet wat betref die samestelling van ’n sakemodel, wat die De Poort-terrein selfonderhoudend en ’n katalisator sal maak vir die progressiewe ontwikkeling van die Paarl-Hamlet-gebied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article