In my bydrae met die titel “Mense oorskat soms hul eie bekwaamhede” wat op 13 September 2019 deur Netwerk24 gepubliseer is, haal ek die volgende uitsprake van Hlaudi Motsoeneng (met sy F-simbole in vier van sy matriekvakke) voor die Zondo-kommissie, “Talent is belangriker as skoolpunte”, asook “… kwalifikasies nie die begin en einde van alles nie”, aan.
In reaksie op hierdie uitsprake van hom het ek in my voornoemde bydrae soos volg geoordeel:
“…bring my by die Dunning-Kruger-effek wat dalk hier (en baie ander plekke) gedeeltelik of ten volle van toepassing kan wees. ’n Opsommende verklaring vir hierdie cognitive bias-effek is:
A common reading of it is that those people who are least competent at a task often incorrectly rate themselves as high-performers because they are too ignorant to know otherwise.”
Op die voorblad van Die Burger van 8 Februarie 2022 verskyn ’n berig met die opskrif “Eskom wil koppe laat rol oor beurtkrag”. In dié berig word die volgende – darem oorwegend verblydende – stellings/beloftes deur mnre. Andrê de Ruyter en Jan Oberholzer gemaak:
- “ . . . op die oorlogspad om onbekwame leierskap uit dié nutsmaatskappy te dryf”
- “Ons sal nie swak prestasie duld nie . . .”
- “Ons is glad nie tevrede met die prestasie van sekere senior bestuurslui nie . . .”
- “. . . enorme uitdaging om vaardige personeel te bekom . . .”
- “. . . krisis na krisis te hanteer met in die beste gevalle nie-vaardige werknemers wat geen ervaring het nie . . .”
- “. . . daar is transformasieteikens wat in ag geneem moet word . . .”.
Dalk som die laaste uitspraak ons nasionale krisisse met nuts- en/of staatsinstellings alles op.
Alles begin by die aanstellingsproses. Hoe word byvoorbeeld en onder meer die volgende hanteer?
- Opstelling van ’n doelgerigte en doeltreffende posadvertensie /werwingsdokument;
- identifisering van werklik gepaste /bekwame kortlys-kandidate
- gekoopte / gekookte / ontoereikende kwalifikasies;
- transformasieteikens wat vooropgestel word en wesentlik ononderhandelbaar skyn te wees; en
- uitskakeling van nepotisme en ondeurdagte kaderontplooiing en baantjies vir boeties.
Ek herhaal graag William Shakespeare se uitspraak aan:
“The fool doth think he is wise, but the wise man knows himself to be a fool.”




