Skrootdiefstal kos die staat, munisipaliteite, sakeondernemings en Jan Alleman elke jaar etlike miljarde.
En tans, in ’n tyd waar die ekonomie gebuk gaan onder die afgelope twee jaar se ekonomiese insinking weens die Covid-19-pandemie, is hierdie diefstal nog erger. Dit is duidelik dat groot sindikate hier aan die werk is. En, weens die prys van metale wat vinnig styg, is dit baie winsgewend.
Skroothandelaars koop gesteelde koper, smelt dit in blokke en korrels, wat nie skrootuitvoerpermitte vereis nie, en verkoop dit aan handelaars wat die gesogte skroot uitvoer, veral na Asiatiese lande. Dit kan dan op byna geen manier geïdentifiseer word waar dié “afval” vandaan kom nie.
In ons vallei vier hierdie praktyk ook hoogty en die skuldiges word bitter selde vasgetrek. In die geringe kans dat dit wel gebeur, beland hierdie misdadigers weinig agter tralies, om nie eens te praat van die groot skuldige – die koper van gesteelde goedere – wat ’n mark hiervoor skep nie.
Die Drakenstein-munisipaliteit het onlangs ’n taakmag op die been gebring om hierdie diefstal die hoof te bied. Volgens hulle is heelwat mense in hegtenis geneem. Net die tyd sal egter leer of alle wetstoepassingsentiteite daar daadwerklik by die taakspan betrokke sal wees om dit hok te slaan – nie net die diewe nie, maar ook die skroothandelaars.




