Vanoggend het my woordeboeke sopas bevestig wat ek al lankal vermoed. Iets wat ons gereeld in ons dorpe sien, is nie maar blote kwajongstreke nie, maar ’n doelbewuste begeerte om dinge te vernietig. Die woordeboek sê dis barbaars en dis ’n siekte, vernielsiekte.
So beskou is party gemeenskappe dus baie siek. En tussen ons loop hierdie barbare rond en kyk wat hulle volgende kan takel. In hulle brand die begeerte om te verwoes, te terroriseer, te verniel.
Dis maar ’n droewige toedrag van sake as die enigste bydrae wat jy tot die samelewing kan maak is om te verwoes wat iemand anders tot stand gebring het. Dis net só . . . primitief. En deesdae moet alles deur wagte bewaak word, of dit verdwyn eenvoudig. Selfs wagte is geen waarborg teen hierdie boewery nie.
Ons gemeenskappe is duidelik in twee kampe verdeel: die wat opbou en iets tot stand bring en die wat afbreek en verwoes. En dit het nie noodwendig iets met kleur te doen nie, want vernielsiekes kom in alle gemeenskappe voor.
So wonder ek wat gaan in die gedagtes van hierdie barbare om. Sou hulle in ’n parkie kom wat die stadsraad vir kinders geskep het, dink hulle “aha, hier is iets om te vernietig – ons begin sommer by die swaaie en breek dit af – dan buig ons die stutpale om en siedaar, dit voel mos nou goed. Ek het iets reggekry”?
Dis hoe siek dit is. En sieker nog is mense wat die begeerte het om kunswerke en oudhede te vernietig. As dit nie met jou politieke menings ooreenstem nie, verwoes dit. Wat het van verdraagsaamheid geword?
My vraag aan hierdie barbare sou wees as jy of jou voorgeslagte dit geskep het, sou jy dit dan ook verwoes? Hoekom nie maar ander mense se goed uitlos nie?
Hier was al gevalle waar die munisipaliteit parke omhein, maar dit duur nie lank nie, dan is daardie heining pale en al weggedra. Huidjie en muidjie, soos die spreekwoord lui. En raai wat? Die munisipaliteit vervang dit. En raai wat? Oor drie dae is dit weer gesteel en op die koop toe is die speelgoed in die park sommer ook onherstelbaar beskadig.
Ai, mense, waarin verval ons? Waar is die beskawing nou? Dit lyk my dis maar baie vlak onder die vel indien enigsins daar.
Ons het almal ’n plig om hierdie vernielsiekes reg te help. Dis ook ons plig om hul dade aan die kaak te stel en hulle met name en adresse by die plaaslike owerheid te rapporteer. Ons hoef nie boewery in ons gemeenskappe toe te laat nie.
Nou iets heeltemal anders: Ons gaan dalk binnekort genoemde parke en strande sonder mondkappies kan besoek. Dis nou die Nederlanders se woord vir gesigmaskers. Die regering werk glo aan ’n beleid hieroor. Dit kan beteken maskers hoef net binnenshuis gedra te word.
Vernielsiekes sal hulle nie meer so lekker met ’n mondkappie kan vermom nie. En hulle beter pasop, Big Brother is watching you. Daar is deesdae oral kameras, hulle weet dit net nie.




