’n Wye soektog is verlede week van stapel gestuur nadat renfietse ter waarde van meer as R1 miljoen van die nasionale fietsry-span van Mauritius by ’n gasteplaas in Suider-Paarl gesteel is.
’n Spanlid het aan Paarl Post bevestig dat nie een fiets al opgespoor is nie.
“Daar was gerugte dat die sleutel tot die stoor waar die fietse gebêre is, glo deur ’n werknemer van die plaas aan die diewe oorhandig is.”
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, sê die fietse het verlede Woensdag (16 Maart) in die vroeë oggendure verdwyn.
“Die fietse is vroeg Woensdagoggend by die gastehuis se bestuur as vermis aangemeld toe dit nie in die stoor waar dit toegesluit is, te vinde was nie.”
Du Plessis sê hulle benodig die publiek se hulp om enige inligting rakende die gesteelde fietse aan te meld.
Sy sê die fietse, wat by Picardie-gastehuis gesteel is, het ’n gesamentlike waarde van ongeveer R1 miljoen.
“ ’n Fietsry-groep van Mauritius, wat onlangs in die Kaapstad-fietstoer deelgeneem het, was gaste by die plaas voordat hulle moes vertrek om aan ’n ander ren, die Africa Cycle Race, in Egipte deel te neem.”
’n Beroep is op sosiale media op die publiek gedoen om op die uitkyk te wees na die peperduur fietse wat aan dié nasionale Mauritiaanse-fietsry-span behoort.
Volgens inligting is die soektog na Kaapstad uitgebrei weens die vermoede dat die fietse daar verkoop is.
’n Fietswinkel in Paarl, Bicycle Garage, het ook op sy Facebook-blad melding van die diefstal gemaak en gevra die fietse moet dringend terugbesorg word.
Volgens ’n werknemer by dié winkel word beraam van die fietse is tussen R100 000 en R200 000 elk werd.
Die bestuur van die gastehuis het geweier om kommentaar aan Paarl Post te lewer nadat dreigemente tydens die foonoproep deur ’n lid van die bestuur gekommunikeer is.
Du Plessis het gevra dat enigiemand wat oor inligting of leidrade oor die diefstal beskik, die Paarl-polisie by 021 807 4009 of Crime Stop by 0860 010 111 sal bel.
* Bicycles to the value of R1 million, belonging to members of the Mauritian National Cycling team, have been stolen from a guest farm in Southern Paarl.




