Die Hoër Landbouskool Boland spog met baie eerstes in die land (en dalk die wêreld) met onder meer twee hektaar wingerde wat skoolbesoekers agter wit ingange begroet.
Die skoolhoof, Kobus Hartman, meen dié wit mure, so tipies aan ’n wynplaas, dra die simboliek van hul wynkelder- drome in wording.
“Die wingerde wat op die plaas te sien is aan die linkerkant van die plaaspad is teen groot risiko tydens die 2020-inperking en alkohol-verbod aangeplant.
“Die gemeenskap het ons gewaarsku dat dit tot groot verliese kon lei, maar ons het toe deurgedruk.”
En op 25 Februarie vanjaar het al die seuns in die skool deelgeneem aan die pars, met minstens 12 ton druiwe wat uit hierdie twee hektaar geoes is.
“Ons beplan nou om ’n verdere twee hektaar merlot aan te plant.”
Daar is ’n groter wingerd wat agter die skerms by die plaasskool groei, maar die klein wingerde by die ingang dien as die voorskou vir die wyn-visie se potensiaal.
Die Hoër Landbouskool Boland-wynkelder se doel as ’n opleidingskelder is gegrond op landboubestuurspraktyke, wat van Januarie tot Desember vir die leerders geleer sal word hoe so ’n operasie werk.
Dit sluit in wingerd- en mynboukunde, hoe druiwe gesny en gepars word, alles te danke aan die bekwame kennis van hul landbou-onnie Schoeman du Preez.
“Die droom is om dit te kan doen met die gebruik van ons eie wynkelder op die plaas,” meen Hartman.
Graad 8- en 9-leerders kry ’n inleiding tot dié studies deur die skool se aanbieding van landboustudies (tesame met die standaard-skoolkurrikulum).
Van graad 10 tot matriek word keusevakke soos landbouwetenskappe, landboutegnologie en landboubestuurspraktyke aangebied.
Gelukkig was die grondslag van die doelwit alreeds daar in die vorm van die skool se ou melkery.
“Die ou melkstalle het leeg gestaan nadat die ou melkkoeie, oftewel kudde, ses jaar gelede uitgeslag moes word weens ’n siekte, besmetlike misgeboorte. Dis ’n baie aansteeklike siekte onder die kudde en die beheerliggaam het besluit om die melkery-planne te stuit.
“Die leë stalle was toe ideaal en in 2020 het ons die ou droom wan ’n wynskool weer aan die gang gekry. Voor my tyd was daar sulke ambisies, maar dit was baie selektief. Net ’n sekere groep seuns sou blootstelling kry en ekstra skoolfonds moes betaal,” sê Hartman.
Toe die idee weer hervat word, is die voorkant van die melkstal waar die botter gemaak is as die eerste opgraderingsfase bepaal.
“Dit is omskep in ’n multilokaal waar vergaderings, konferensies of kuiers gehou word met die gerief van ’n binne-braaiplek.”
Die wynkelder se multilokaal het al hope geleenthede gehuisves, van reünies en boerevergaderings tot wynproewe, en op Vrydae word kos en wyn aan die ouers voorgesit wanneer die seuns kom haal word.
“In samewerking met POREX, wat spesialiseer in die oprigting van wynkelders, het die skool al planne opgestel en kosteberamings gefinaliseer.”
Hartman het mettertyd Danie Marais van Windmeul-kelder genader om meer wyn-wysheid te bekom.
Windmeul-kelder behoort aan ’n netwerk van 32 lede waaraan die skool ook behoort. Onder dié netwerk verskaf die Hoër Landbouskool Boland sy druiweoeste aan Windmeul-kelder.
“Danie het toe aanbeveel dat ons eerder met die wynproduk begin. Dit sal beter wees as om te wag vir die kelder. Maak eers die wyn, verkoop dit aan ’n mark wat dan kan groei.”
Marais stem toe in en dis waarheen die landbouskool se druiwe gestuur word om gebottel te word.
Marais het wel die skool aangeraai om eers 300 kissies te produseer, maar Hartman het op 1 000 kissies aangedring, wat ’n 30%-chenin blanc- en 70% merlot/cabernet sauvignon-versnit is.
Hartman haal ’n bottel van die rak af en wys die ryke simboliek wat die skool se sentimente op die etiket uitbeeld: “Vir die broers voor ons en die broers na ons bewaar ons mekaar die Landbouskool. Met dit, tesame met die skoolwapen en ons leuse, wil ons graag die emosie onder die old boys en die ouers ook aanwakker,” sê hy.
Dié wyne is in die skool se plaasweek in September bekend gestel en Hartman getuig dat van die witwyn altesaam 1 800 bottels binne twee maande verkoop is.
“Die wyn is tans winsgewend. En met die momentum saam met Vinpro wat aan ons deur geklop het, het ons ’n proefblok van 0,7 hektaar op die plaas geplant.
“Hier is 40 kultivars van wit en rooi druiwe geplant om te toets hoe die druiwe hier sal vaar. Ses uit dié kultivars is vir die eerste keer in die land op ons grond geplant.”
So help die skool ook vir Vinpro om data oor die kultivars in te samel, gebaseer op die verskillende groei-praktyke wat die landbouskool in dieselfde asem aan die kinders kan voorhou.
“Ons is tans op soek na instansies en beleggers wat bereid sal wees om in die wynkelder te belê sodat ons dit so gou as moontlik kan bou.
“Elke borg van die projek word deur die skool erken deur reklameborde wat bydraes toon.”
Die hart van Boland Landbouskool se wynkelder lê egter nie in die verkoop van wyn nie.
“Ons doel is om vir elke liewe seun, van gr. 8 tot 12, dié geleentheid te bied om wynmaak te leer – en nie net vir ’n verkose minderheid nie.”





