Mense se houding teenoor iets beïnvloed gewoonlik grotendeels hoe hulle daarna kyk en die ervaring wat hulle daaruit kry.

Inwoners kla al jare oor die diens wat hulle by veral staatsinstansies kry, en Paarl Post het onlangs weer klagtes ontvang van inwoners wat ongelukkig is omdat hulle van douvoordag by die plaaslike Binnelandse Sake-kantoor in ’n ry staan, maar teen die einde van die dag steeds nie gehelp word nie.

Wanneer jy verby die kantoor ry, staan mense gedurig buite in rye. Paarl Post het daarom die plaaslike kantoor genader om ook aan die publiek duidelikheid te gee oor wat die struikelblokke is wat die plaaslike kantoor se personeel daagliks in die gesig staar.

Die pandemie het ook daartoe gelei dat talle dienste wat deur Binnelandse Sake gelewer is vir maande gestaak moes word wat tot groot druk bygedra het.

Volgens Imgard Michaels, distrikstriksbestuurder van die Kaapse- wynland en die Weskus, het die skuif van die ramptoestand na vlak 1, toe alle dienste by Binnelandse Sake hervat is, tot ’n groot aantal kliënte gelei.

“Die kantoor in Paarl is, soos alle ander kantore, oop vir diens aan alle kliënte. Gemiddeld word 320 kliënte per dag by 10 bemande toonbanke gehelp. Weens Covid-19 heers ’n beperking op die aantal kliënte wat in die wagruimte toegelaat kan word,” verduidelik Michaels.

Sy sê baie oggende teen 08:00 staan gemiddeld 200 kliënte reeds buite in rye en wag.

Hopelik skyn daar nou lig aan die einde van die tonnel – nie net vir kliënte nie, maar ook vir die werkers wat daagliks met honderde mense moet werk. Dit behels ’n nuwe aanlyn besprekingsopsie wat tans op die proef gestel word.

Volgens Michaels is die Paarl-kantoor ook deel van die bekendstellingsprogram van aanlyn besprekings wat op die departement van binnelandse sake se webtuiste gedoen kan word. Hiervolgens kan ’n afspraak op ’n spesifieke datum en tyd gemaak word, wat wagtyd aansienlik beperk.

Kliënte word aangemoedig om van hierdie diens gebruik te maak.

“Ongelukkig is die lyne by die kantoor soms af, wat dienslewering negatief beïnvloed, maar tegnici poog hard om sulke tye te beperk en te voorkom,” het Michaels gesê.

Hoewel almal nie Job se geduld het om vir ure te staan en wag nie, lyk dinge ook nie veel beter in buurdorpe nie, maar baie mense reis eerder na Paarl omdat hulle hier glo vinniger gehelp word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article